|

AfriForum help met opening van saak van beweerde seksuele misdrywe teen prominente Sandton-prokureur

’n Strafregtelike klag is ingedien teen ’n prominente prokureur van Sandton wat van seksuele misdrywe en die seksuele gereedmaking van ’n vrou beskuldig word toe sy net 15 jaar oud was. Ná 11 jaar van fisieke, emosionele en seksuele mishandeling het Micheline Urquhart (26) vandag die saak by die Norwood-polisiekantoor in Johannesburg geopen. Urquhart het AfriForum se privaatvervolgingseenheid genader nadat sy glo in die steek gelaat is deur verskeie ander prokureurs wat sy om hulp genader het om die strafregtelike klagtes aan te meld.

In ’n beëdigde verklaring wat ’n hele paar bladsye beslaan, sit Urquhart uiteen hoe sy die prokureur ontmoet het toe sy ’n tiener was; hoe hy haar oor etlike jare glo seksueel gereed gemaak het en haar as sy minnares hanteer het. Toe Urquhart die situasie met die verdagte wou beëindig, het hy haar agtervolg en haar lewe glo hel gemaak. Haar beëdigde verklaring bevat gedetailleerde inligting oor die verdagte se beweerde gewelddadige uitbarstings, aanrandings en dwelmmisbruik.

Urquhart sê in haar beëdigde verklaring: “Ek gaan slaap en word voortdurend gedurende die nag wakker in totale paniek, vrees en angs. Ek het voortdurend terugflitse van [die verdagte] wat my aanval. Elke dag en nag vrees ek vir my lewe. Ek het fisiese letsels aan my liggaam, maar nog erger, die emosionele en sielkundige letsels het my welstand en my kans om ’n normale lewe te lei, soos elke mens verdien om te lewe, ernstig beïnvloed. Ek is beroof van alles wat ’n vrou kan hê en wil wees. Die wrede en gewelddadige verdagte het my lewe van my gesteel.”

Urquhart het buite die Norwood-polisiekantoor gesê sy is hoopvol dat die saak behoorlik ondersoek sal word.

“Ek is vandag hier omdat ek ’n saak aanhangig gemaak het oor verskeie seksuele misdrywe teen ’n prominente prokureur. Ek het voor dit regshulp gevra en ek het uiteindelik AfriForum en adv. Gerrie Nel gekry om my by te staan. Ek hoop dat geregtigheid sal seëvier. Ek is meer as bereid om te verseker dat hierdie saak behoorlik afgehandel word. Daar was baie teleurstelling om voortdurend in die steek gelaat te word vir so ’n ernstige saak; dit laat jou voel asof geen ondersoek ooit gedoen gaan word nie.”

AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal die verwikkelinge in die ondersoek fyn dophou. 

Soortgelyke plasings