|

Kallie Kriel sê oor AfriForum en die kinders van Nkandla

’n Hoofman uit die Nkandla-omgewing het onlangs een van sy verteenwoordigers afgevaardig om AfriForum vir hulp te nader om bykomende druk op die ANC-regering te plaas om toe te sien dat 400 kinders, wat weens die regering se wanbestuur nie toegang tot ’n skool het nie, toegang tot onderrig kry. Dié versoek het groot aandag in die media geniet. Dit word deur baie as ’n pluimpie vir AfriForum beskou, aangesien dit erkenning gee daaraan dat AfriForum ’n doeltreffende kampvegter vir burgerregte is.

Aangesien AfriForum onbeskaamd en openlik vir die regte van Afrikaners, Afrikaanssprekendes en minderhede veg, was dit vir sommige vreemd dat AfriForum só ’n versoek uit ’n swart gemeenskap ontvang het. Dit is egter nie vreemd nie.

AfriForum se baanrekord is bewys dat die organisasie met groot gemak vir byvoorbeeld Afrikaners se belange kan intree, maar terselfdertyd ook geregtigheid vir álle mense kan voorstaan. Aangesien ons die regte van almal respekteer, kan ons sonder vrees vir teenspraak met groot selfvertroue standpunt inneem wanneer die gemeenskappe benadeel word waarin AfriForum se lede hulle bevind. Ons bou nie ons Afrikanerskap op ’n basis van haat teenoor ander gemeenskappe nie. Ons wil sien dat daar ’n plek onder die son vir alle gemeenskappe is. Daarom is ons ook nie skaam om met alles wat in ons is ten behoewe van die gemeenskappe waarvan AfriForum se lede deel vorm vir ’n plek onder die son te veg nie.

Die beginselvraag hier is of dit reg is dat Jacob Zuma as president die staatskas – waarvan AfriForum-lede se belastinggeld deel vorm – plunder deur vir homself ’n luukse huis van sowat R250 miljoen te bou, terwyl 400 kinders in die omgewing nie toegang tot ’n skool het nie. Die antwoord hierop is onomwonde: Nee! Iemand moet Zuma se onetiese optrede uitwys en AfriForum sal uit beginsel help toesien dat hierdie onreg aan die groot klok gehang word.

’n Klein groepie aan sowel die linker- as die verregse kant het, sonder dat hulle dit weet, ’n bondgenootskap gevorm in hulle misplaaste pogings om AfriForum sonder sukses te probeer diskrediteer. Vanuit die linkerkant is daar pogings om die feit dat AfriForum dit “durf waag” om ten behoewe van Afrikaners op te tree as rassisme af te maak. Die versoek wat AfriForum ontvang het om vir geregtigheid vir kinders in Nkandla te veg, het natuurlik hierdie poging van ’n paar Afrikaanse lefties ’n ernstige nekslag toegedien.

Vanuit verregse kringe was die aanslag een van verkeerde inligting. Volgens ’n paar internetkrygers uit hierdie geledere sou AfriForum nou kwansuis ons lede se geld wanaanwend om ’n skool vir “swartes” te bou, eerder as om wit kinders by te staan en plaasmoorde en ander geweldsmisdaad te beveg. Hoe belaglik hierdie aantygings ook al mag klink, laat ek dit maar op rekord plaas: AfriForum gaan nie ’n skool bou nie. Dit is nie waarvoor ons lede ons ondersteun nie. Gaan ons veg vir wat reg is? Die antwoord is beslis: Ja!

Die ironie is dat die internetkrygers uit verregse geledere, behalwe vir Facebookgeveggies, sélf maar weinig doen om ’n toekoms vir Afrikaners, Afrikaanssprekendes en ander minderhede te help bou. Daarteenoor het AfriForum reeds miljoene rande aan regskostes spandeer om Afrikaans in Afrikaanse skole en universiteite Afrikaans te behou of om te verhoed dat godsdiens uit dié skole verban word. AfriForum spandeer ook ’n wesenlike deel van sy hulpbronne om gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe aan te pak. Meer as 80 buurtwagte is reeds in gemeenskappe gestig waar AfriForum-takke werksaam is, en groot planne is in wording om hierdie aksies te versnel om te help om geweldsmisdade in stede, dorpe en landelike gebiede saam met ander rolspelers trompop te pak. AfriForum se span beraders beweeg ook die land vol om slagoffers van geweldsmisdade by te staan, soos wat die geval was met die gruwelike plaasmoorde wat onlangs in Balfour plaasgevind het. Meer inligting oor AfriForum se omvattende veiligheidstrategie sal eersdaags tydens ’n veiligheidsberaad bekend gemaak word.

Vanuit die Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum trots deel is, word ook reusewerk gedoen ten behoewe van ons lede en die gemeenskappe waarvan hulle deel is. Die Solidariteit Helpende Hand het byvoorbeeld vanjaar R31 miljoen se studiehulp aan Afrikaanse studente beskikbaar gestel, om nie eens te praat van die talle voedingsprojekte wat in Afrikaanse skole aangepak word en skooltassies wat onder behoeftige Afrikaanse kinders versprei word nie. Afrikaanse naskoolse opleidingsinstellings soos Akademia en Sol-Tech is ook binne die Solidariteit Beweging tot stand gebring om te help toesien dat Afrikaanse studente toegang tot onderrig in hulle moedertaal kry. Benewens hierdie aksies veg Solidariteit ook hand en tand vir hul lede se werk teen die bedreigings wat regstellende aksie en anti-wit rassisme inhou. Daar is nog talle ander groot aksies wat te veel is om hier te noem.

In die lig van bogenoemde is dit dus nie geloofwaardig as enigiemand probeer voorgee dat hulp aan kinders in Nkandla op enige wyse beteken dat AfriForum sy plig teenoor sy meer as 185 000 lede en hulle gesinne versuim nie.

AfriForum gaan hom nie deur kleinlike kritiek van stryk laat bring nie. Die organisasie kan en gaan volstoom voort om te veg vir die belange van sy lede en die gemeenskappe waarvan hulle deel vorm, én om terselfdertyd onreg soos korrupsie en Zuma se onetiese optrede tot voordeel van almal in die land te beveg. Die aanstelling van adv. Gerrie Nel as hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid is ’n goeie voorbeeld van ’n aksie wat die belange van ons lede, die gemeenskappe waarvan hulle deel is en almal in die land dien.

Vir diegene wat steeds wonder: Ja, AfriForum gaan veg teen die onreg wat Zuma en sy regering in Nkandla pleeg … En nee – ons gaan nie ’n skool bou nie.

Kallie Kriel is uitvoerende hoof van AfriForum

Soortgelyke plasings