|

AfriForum help om vermiste persoon op te spoor

AfriForum het op 3 Februarie in samewerking met die gemeenskapspolisiëringsforum in Bethal gehelp om ’n vermiste persoon op te spoor.

Die 68-jarige man is op 2 Februarie as vermis aangemeld en die omstandighede rondom sy verdwyning is onbekend. Hy is oorspronklik van Lows Creek in die Laeveld van Mpumalanga.

AfriForum-buurtwagte regoor Mpumalanga het in die soektog gehelp, maar daar was geen duidelike spoor van die vermiste persoon nie. Een van AfriForum se distrikskoördineerders in Mpumalanga het egter die man langs die N17-hoofweg opgemerk wat deur Bethal loop.

Die distrikskoördineerder het onmiddellik die Bethal-GPF gekontak, maar die persoon was intussen reeds opgelaai deur verbygaande motoriste. AfriForum en die GPF het die voertuig agterna gesit en veilig tot stilstand gebring.

Daar is onmiddelik met die vermiste man se familie kontak gemaak en reëlings getref om hom met sy geliefdes te herenig. Hy is van ’n vars bord kos voorsien en deur mediese personeel ondersoek.

“Hierdie is ’n bewys dat goeie samewerking tot suksesse lei wat lewens kan red,” sê Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Hoëveld.

Sluit vandag aan by AfriForum se Bethal-tak, SMS “Bethal” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings