| |

AfriForum-hommeltuie ingespan in soektog na vermiste vrou

AfriForum-buurtwagte in die Wes-Kaap se hommeltuig-vlieëniers is hul so goed van hul taak kwyt dat hulle selfs in die ergste weerstoestande persone oor langafstande kan opspoor. Dít is presies wat van dié buurtwagte verwag is toe die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) onlangs hul hulp ingeroep het om te midde sterk winde en erge reënval na ’n vermiste vrou te soek.

Polisiebeamptes verbonde aan die Groot-Drakeinstein-polisiestasie het op 5 Junie AfriForum se Stellenbosch-buurtwag gekontak om bystand te lewer in die soektog na ’n jongvrou wat vroeër vandeesmaand in Pniel vermis geraak het. Dié buurtwag se drie hommeltuig-vlieëniers het al etlike maal hul hulp aan die plaaslike polisie verleen, maar in hierdie geval het die gure weerstoestande hul verhoed om die Mavic 3-hommeltuig doeltreffend te gebruik.

Die hoofvlieënier van die Stellenbosch-tak se hommeltuigspan, Thomas Halbich, was egter doelgerig om die vermiste vrou op te spoor. As sodanig het hy AfriForum se Overstrand-buurtwag se hulp ontbied. Die Overstrand-buurtwag het toegang tot die groter Matrice 30T (M30T) -hommeltuig wat gesertifiseer is om in reën en ander gure weerstoestande te vlieg. Die Overstrand-buurtwag het ingestem om te help en dadelik vanuit Hermanus vertrek.

Onder leiding van Lourens Theron, hommeltuig-vlieënier, het die Overstrand-span om 11:30 by die Groot-Drakeinstein-polisiestasie aangemeld en is hulle saam met die Stellenbosch-buurtwag na die Banghoekrivier geneem waar daar aan albei kante van dié rivier na die vrou gesoek is. Plaaslike inwoners het ook hand bygesit om na die vermiste vrou te soek.

Die Overstrand-buurtwag se M30T-hommeltuig het om 12:16 opgestyg en eers 14:37 geland nadat dit sowat 14 km afgelê het om die gebied al om die rivier te fynkam. Die gebied om die Banghoekrivier is dig bebos en die hommeltuig se infrarooi-kamera is aangewend om enige liggaamshitte op te spoor. Danksy dié hommeltuig en die spanne op voetsoolvlak, is klere en ’n bril, wat glo aan die vermiste persoon behoort, gevind. Daar is ook op ’n stuk tou afgekom wat aan ’n boom naby die rivier vasgemaak was. Weens die voortdurende reënval was die watervlak egter te hoog, wat dit onmoontlik gemaak het om verder ondersoek in te stel.

Die vermiste persoon is gevolglik nie dadelik opgespoor nie, maar die polisie het later na die gebied toe teruggekeer nadat die watervlak gesak het. Dit was toe dat beamptes op die liggaam van die vermiste vrou in die rivier afgekom het. Die polisie het aan AfriForum bevestig dat hulle ’n saak van moord ondersoek.

“Dit was ’n tragiese en hartseer einde aan hierdie soektog. Die gemeenskap, in samewerking met AfriForum se buurtwagte en die polisie het egter als in die stryd gewerp om die vrou so gou moontlik op te spoor,” sê Theo Turner, operasionele leier van AfriForum se Stellenbosch-buurtwag.

Turner sê dit was van onskatbare waarde vir AfriForum se Stellenbosch- en Overstrand-buurtwagte om by die soektog betrokke te wees. “Die noue operasionele samewerking met die polisie tydens die soektog, wat onder geweldige tydsdruk moes plaasvind, was ’n goeie leerskool vir die hommeltuigspanne en sal AfriForum in die toekoms help om vinnig en doeltreffend op noodgevalle te reageer.”

Besoek www.wordlid.co.za om meer van AfriForum en sy buurtwagte te wete te kom.

Soortgelyke plasings