|

AfriForum-handleiding help om veiligheidsrisiko’s by kerke uit te wys

Misdaad in Suid-Afrika het onder die ANC-regering ongekende hoogtes bereik. Persoonlike veiligheid is iets wat ’n mens altyd in gedagte moet hou waar jy ook al is. Allerlei misdaad in en om kerke het selfs ’n verskynsel geword wat al hoe meer kop uitsteek. AfriForum het daarom ’n handleiding opgestel wat daarop gemik is om kwesbare areas by kerke te identifiseer sodat dit beveilig kan word.

Verskillende scenario’s word as vertrekpunt gebruik om te bepaal waar ’n kerk se veiligheid kan verbeter. Hierdie scenario’s sluit in algemene inbraak, gewapende roof, voertuigdiefstal, mediese voorvalle, brandstigting en ontvoering. AfriForum glo dat ’n goed voorbereide kerk ’n moeilike teiken vir kriminele elemente is, wat misdadigers twee keer sal laat dink voordat hulle dit vir hul aktiwiteite uitsonder.

“In die verlede het die staat sy verantwoordelikheid ten opsigte van die beveiliging van gemeenskappe nagekom en was dit nie nodig vir sekuriteitsmaatskappye of ander instansies om kerke te beveilig nie. Kerkleiers fokus dus nie noodwendig op die ontleding van risiko’s en die daarstel van veiligheidsmaatreëls nie. Dié leemte ten opsigte van beveiliging moet gevolglik dringend hanteer word aangesien misdaad aan die toeneem is en daarom het AfriForum hierdie assesseringsinstrument vrygestel,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir gemeenskapsveiligheid.

Die handleiding bestaan uit 81 vrae wat gegroepeer word in afdelings in die kerk, infrastruktuur, kommunikasie, die omgewing om die kerk, brand en ontvoering. Laasgenoemde is spesifiek gemik op kerke wat ook as ’n skool gebruik word. Die belangrikheid van ’n noodplan word byvoorbeeld in die vrae aangeraak sowel as ander inligting wat geredelik beskikbaar behoort te wees. Vrae wat spesifiek beantwoord moet word, sluit in: Is daar reeds ’n noodplan? Is daar ’n afskrif van hierdie plan in elke lokaal? Ken almal insluitend die lidmate die plan? Word die spaarsleutels veilig gebêre?

Wat infrastruktuur aanbetref word heinings van nagenoeg twee meter hoog voorgestel en goeie kommunikasie met naby geleë buurtwagte en die Suid-Afrikaanse Polisiediens kan ook van groot waarde wees as ’n noodgeval sou ontstaan. Voorts behoort die gemeente lyste met noodnommers vir die plaaslike brandweer, metropolisie, privaat sekuriteitsfirmas en die naaste hospitaal byderhand te hê.

’n Ander aspek wat in gedagte gehou moet word, is om betroubare werknemers aan te stel wie se persoonlike besonderhede geverifieer en agtergronde nagegaan is. Personeel wat opgelei is om noodhulp toe te pas, kan ook ’n waardevolle rol vertolk sou ’n noodgeval plaasvind.

Die volledige dokument is gratis in Afrikaans of Engels op AfriForum se webwerf beskikbaar.

Soortgelyke plasings