|

AfriForum gaan voort met sy stryd teen Onteieningswetsontwerp deur skriftelike kommentaar by Wes-Kaapse parlement in te dien

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandeesweek verdere skriftelike kommentaar teen die Onteieningswetsontwerp [B 23 – 2020] ingedien. Dit volg nadat die Wes-Kaapse provinsiale parlement se staande komitee oor infrastruktuur ’n geleentheid gegun het vir kommentaar op dié wetsontwerp.

AfriForum het in 2023 skriftelike kommentaar teen die Onteieningswetsontwerp by die gekose komitee oor vervoer, staatsdiens en administrasie, openbare werke en infrastruktuur, asook die Gautengse wetgewer se portefeuljekomitee oor infrastruktuurontwikkeling en eiendomsbestuur ingedien. Daarbenewens het AfriForum se Gautengse verteenwoordigers in Junie mondelinge voorleggings teen die wetsontwerp gelewer.

“Waar ook al ’n geleentheid hom voordoen om voorleggings teen hierdie vernietigende wetsontwerp te lewer, sal AfriForum aan die voorpunt daarvan wees,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“Oor die jare het openbare druk die ANC gedryf om terug te tree van verskeie katastrofiese idees. Hierdie Onteieningswetsontwerp is nie anders nie. Waar ook al die burgerlike samelewing en die burgery druk kan toepas, moet almal saamstaan,” sluit Van Zyl af.

Die publiek kan kommentaar teen hierdie wetsontwerp lewer by www.onteiening.co.za.

Soortgelyke plasings