AfriForum hoop saak by Internasionale Strafhof sal Suid-Afrikaanse regering aan oppergesag van die reg herinner

 

Verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse regering moes vandag aan die Internasionale Strafhof in Den Haag, Nederland, verduidelik waarom dit in Junie 2015 nie die regering se verpligting teenoor dié Hof nagekom het deur Omar al-Bashir, omstrede Soedannese president, tydens sy besoek aan die land te arresteer nie.
In terme van die Statuut van Rome – waarvan Suid-Afrika ’n ondertekenaar is – hou die Hof Suid-Afrika verantwoordelik vir die feit dat Al-Bashir toegelaat is om die land op 15 Junie 2015 ongehinderd te verlaat en dus steeds nog nie aanspreeklik gehou kon word vir die menseregteskendings waarvan hy beskuldig word nie.
Prof. Dire Tladi het namens die Suid-Afrikaanse regering geargumenteer dat die Statuut van Rome geen verpligting op enige regering plaas om die immuniteit van ’n dienende staatshoof wat nie ’n ondertekenaar van die Statuut is, te skend deur hom te arresteer nie. Hy het ook bygevoeg dat Al-Bashir nie alleen vir enige menseregteskendings verantwoordbaar gehou mag word nie. Hy het egter ontken dat Suid-Afrika se besluit oor ’n positiewe verhouding met Al-Bashir gegaan het – volgens hom was dit ’n objektiewe beginselbesluit sonder inagneming van die individu.
Tladi het ook aangevoer dat, selfs al sou die Hof bevind dat Suid-Afrika wel ’n verpligting oortree het, is dit nog geen rede is om Suid-Afrika vir optrede na die VN se veiligheidsraad te verwys nie. Hy het ook die belangrike rol beklemtoon wat Suid-Afrika in vredesoperasies in Afrika speel.
Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, is die invalshoek van die regering geen verrassing nie, maar spreek dit van ’n gebrek aan respek vir die oppergesag van die reg en die kultuur van onaanspreeklikheid wat owerheidstrukture in Suid-Afrika toenemend kenmerk.

“Argumente oor onduidelikheid van regsaspekte moes vroeër met die Hof uitgeklaar gewees het – dit kan nie nou as skuiwergate gebruik word om die land se optrede in 2015 te verskoon nie,” sê sy.
“As ’n staatshoof nie vir sy regering se optrede verantwoordbaar gehou kan word nie, wie kan dan? Dit beteken nie dat hy alleen verantwoordbaar hoef te wees nie – in ’n verhoor kom skuld en die rol van ander aanspreeklikes wel ter sprake. Deur die Suid-Afrikaanse regering se weiering om Al-Bashir te arresteer en aan die internasionale strafhof uit te lewer, is sowel Al-Bashir as diegene wie se menseregte so ingrypend geskend is nou van ’n geleentheid tot geregtigheid ontneem.”

AfriForum hou die res van die verloop van die saak dop en hoop dat die slagoffers wel deur die gebeure van vandag nader aan afsluiting sal kom en die Suid-Afrikaanse regering herinner sal word dat niemand bo die gesag van die reg verhewe mag wees nie.

Soortgelyke plasings