Universiteit van Pretoria betaal AfriForum Jeug se regskostes


Die Universiteit van Pretoria (UP) moes ’n kostebevel van R139 000 betaal nadat hulle verlede jaar ’n hofsaak in die Noord-Gautengse hoë hof teen AfriForum Jeug verloor het.
Dié hofsaak het gehandel oor die onregmatige verwydering van toerusting uit AfriForum Jeug se kampuskantoor weens politieke druk. Dr. Matete Madiba, direkteur van studentesake by UP, en die EFF se studentevleuel is as respondente tot die saak gevoeg. Regter Bill Prinsloo het bevind dat dr. Madiba oneerlik was in haar verklarings en dat “dr. Madiba en die waarheid vreemdelinge vir mekaar is”.

“Dit is jammer dat die universiteit kostes soos hierdie moet aangaan omdat hulle reg in eie hande neem en onder politieke druk swig. Dié geld kon eerder aangewend word om arm studente te help studeer. Nou moet die universiteit dit egter opdok weens die dubbele standaarde wat daar gehandhaaf word,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum Jeug se Tuks-koördineerder.

Grobbelaar voeg by dat UP die geld persoonlik van dr. Madiba moet terugeis omdat sy onregmatig opgetree het.

“Ons sal graag wou sien dat die universiteit dr. Madiba vir haar aksies verantwoordbaar hou en die kostes persoonlik van haar verhaal. Dit is studente se geld wat nou gemors word om te betaal vir haar foute en oneerlikheid.”

Soortgelyke plasings