AfriForum in hof met hersieningsaansoek oor SAMRK-besluit oor Malema-haatspraak

Die burgerregteorganisasie AfriForum was vandag in die Hooggeregshof in Johannesburg vir ’n hersieningsaansoek oor die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) se 2019 besluit dat Julius Malema, leier van die EFF, na hulle mening nie in 2016 haatspraak gepleeg het tydens ’n byeenkoms in Newcastle nie. Malema het op hierdie geleentheid, onder andere, gesê: “We are not calling for the slaughtering of white people, at least for now.”

AfriForum het in 2019 hofstukke ingedien om die SAMRK se besluit op hersiening te neem. Die saak word aangehoor deur regter Roland Sutherland.

“Die lys van gevalle waar blatante dubbele standaarde toegepas word met betrekking tot duidelike haatspraak wat teenoor rasseminderhede in Suid-Afrika gepleeg word hou aan groei. Hierdie tendens moet dringend gestuit word en deur sake soos hierdie speel AfriForum ’n belangrike rol in hierdie stryd,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Die saak gaan môre voort.

Soortgelyke plasings