|

Waterkrisis dreig: 81% van riooluitvloei nie voldoende behandel nie

Suid-Afrika staan – veral ten opsigte van behandelde rioolafvalwater – op die rand van ’n ernstige waterkrisis. Uit die uitvloei van 140 rioolafvalwaterbehandelingswerke (RAWBW’e) wat vanjaar getoets is, het slegs 19% hiervan aan die minimum standaarde voldoen. Dit beteken dat die water wat RAWBW’e in riviere stort, in ’n kommerwekkende 81% van gevalle nie voldoende behandel is nie.

Dít is een van die mees kommerwekkende gevolgtrekkings wat in AfriForum se nuutste blou-en-groendruppelverslag gemaak word. Dié jaarlikse, onafhanklike verslag is vandag in Vereeniging by ’n stukkende rioolpompstasie bekendgestel om die algehele verval van munisipale rioolwaterinfrastruktuur ten toon te stel. Dit is een van honderde plekke landwyd waar varswaterbronne (soos die Vaalrivier) wat drinkwater aan gemeenskappe voorsien, met rou riool besoedel word.

Die 2023-verslag bevat die volledige uitslae van waterkwaliteitmonsters wat AfriForum se netwerk van 161 takke oor die hele land heen gedurende Augustus van munisipale drinkwater (bloudruppel) en die uitvloei van verwerkte rioolwater (groendruppel) vanuit plaaslike RAWBW’e geneem het.

Die verslag wys daarop dat Suid-Afrika se drinkwater steeds in ’n groot mate aan die minimumvereistes voldoen. Uit die 193 toetse waarin drinkwater getoets is, is dit in agt gevalle as onveilig vir menslike gebruik getoets. 

AfriForum stel sedert 2013 jaarliks ’n onafhanklike blou-en-groendruppelverslag saam om betroubare inligting oor die gehalte van Suid-Afrika se drink- en rioolwater aan die publiek bekend te maak. AfriForum is genoodsaak om die leemte te vul wat gelaat is nadat die Departement van Water en Sanitasie (DWS) bykans ’n dekade lank geen amptelike blou- en groendruppeltoetsverslae bekendgemaak het nie. Hoewel die DWS weer in 2022 sy nasionale blou- en groendruppelprojek hervat het, vervul AfriForum steeds ’n belangrike waghondfunksie waardeur druk op die DWS en munisipaliteite toegepas kan word om dié instellings tot verantwoording te roep.

Vanjaar se toetse is in Augustus onderneem en het die teenwoordigheid of afwesigheid van verskeie chemiese en bakteriologiese komponente ondersoek. Die toetse bepaal onder meer die teenwoordigheid van die bakterie E. Coli, wat diarree, naarheid, braking en selfs nierversaking tot gevolg kan hê, en fekale kolivorme bakterieë, wat siektes soos ingewandkoors (oftewel buiktifus), lewerontsteking en disenterie kan veroorsaak.

“Die uitslae van vanjaar se toetse is rede tot ernstige kommer oor die algehele toestand van die bestuur van die volledige watervoorsieningsketting in Suid-Afrika,” meen Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake. “Hoewel watertoetse net gedoen word op plekke waar AfriForum takke het, en die uitslae net geld ten opsigte van die tydstip waarop die watermonsters geneem is, skets die resultate ’n prentjie van hoe gesond, of ongesond, Suid-Afrika se water in die geheel is,” verduidelik De Vaal verder.

Volgens Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake, onttrek sowat 90% van dorpe landwyd drinkwater uit watermassas waarin rioolaanlegte (on)behandelde riool stort. “Die wanbestuur van RAWBW’e veroorsaak dus ’n bose kringloop wat ook die gehalte van drinkwater kan beïnvloed,” verduidelik De Klerk. Hy hou vol dat dit uiteindelik ’n reuse-invloed op die koste van drinkwater sal hê. “Ons betaal nog relatief min vir drinkwater, maar dit gaan al hoe duurder word om water te suiwer en daarom gaan die prys van drinkwater opgaan.” Hy waarsku ook dat indien die regering nie nou dringend ingryp om die wanbestuur van RAWBW’e te pak nie, sal aanlegte se beheer en bestuur verbrokkel en kan dit lei tot lewensgevaarlike situasies soos wat vroeër vanjaar met die cholera-uitbreking die geval was.

Soortgelyke plasings