|

BELA openbare raadplegingsessies hervat ‒ AfriForum versoek publiek om deel te neem

Die openbare raadplegingsessies waar die publiek mondelinge insette oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die BELA-wet) kan lewer, word vanaf 5 Mei 2023 hervat. Die kennisgewing met datums en lokale is pas deur die sekretaris van die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Basiese Onderrig bekendgemaak.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, word die aankondiging verwelkom. “Die konsepwet bevat artikels wat ’n groot bedreiging vir die toekoms van gehalte onderrig oor die algemeen, en Afrikaanse moedertaalonderrig in die besonder inhou. Dit het onder meer te make met die goedkeuring van skole se toelatings- en taalbeleide. Tans berus die finale besluit hieroor by skole se beheerliggame, maar die konsepwet bepaal dat die besluitnemingsmag by provinsiale onderwyshoofde moet lê. Dit beteken magsentralisasie in die hande van die staat, ten koste van gemeenskappe se reg om self oor hulle kinders en skole se belange te besluit.

Die openbare verhore wat nou hervat, bied aan lede van die publiek die geleentheid om standpunt teen die wet in te neem en moet dus aangegryp word. Daar was reeds geleentheid vir petisies en skriftelike kommentaar. AfriForum het ook in November 2022 ’n voorlegging in die parlement gedoen. “Dit is noodsaaklik dat alle belanghebbendes hulle so sterk as moontlik teen die konsepwet uitspreek om te voorkom dat dit in die huidige formaat aanvaar word,” sê Bailey.

AfriForum is van mening dat dit beter sal wees om die konsep te skrap en van voor af oor die hersiening van die bestaande skolewetgewing te besin. Bailey noem dat die onderwysveld die afgelope jare ingrypend verander het danksy nuwe leerpatrone wat tydens die Covid-19-inperkings gevestig is, tegnologie wat daarmee saam ontwikkel het en kwessies soos taalregte waaroor daar meer insig ontstaan. “Dit is nou tyd om weer nuut oor skolewetgewing te dink en met nuwe voorstelle vorendag te kom, eerder as om verder tyd en koste aan hierdie ideologies gelaaide, ongrondwetlike en verouderde konsepwet te wy,” sluit Bailey af.

Soortgelyke plasings