|

AfriForum: Inwoners van elke provinsie moet hul stemme dik maak teen Onteieningswetsontwerp

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag verdere geskrewe kommentaar ingedien teen die Onteieningswetsontwerp [B 23 – 2020]. Dít volg nadat die Gautengse Wetgewer se Portefeuljekomitee oor Infrastruktuurontwikkeling en Eiendomsbestuur ’n geleentheid vir kommentaar op die wetsontwerp geopen het.

AfriForum gaan ook in Junie aan die volgende geleenthede vir mondelingse voorleggings rakende hierdie wetsontwerp deelneem:

  • Op 1 Junie om 10:00 in die Akasia-gemeenskapsentrum in Pretoria.
  • Op 5 Junie 2023 om 10:00 in die Mogale City Eeufeessaal in Krugersdorp.

AfriForum beklemtoon dat indien hierdie wetsontwerp sou slaag, dit ’n verwoestende impak op alle Suid-Afrikaners sal hê, veral in die konteks van huiseienaarskap, voedselsekerheid en ekonomiese verwoesting.

Volgens Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, moet individue en organisasies van elke geleentheid gebruik maak om hierdie gevaarlike wetsontwerp teen te staan.

“AfriForum glo sterk in die mag van publieke druk. Solank as wat daar geleenthede is waar ons druk kan toepas, is dit ons plig as burgers en burgerregteorganisasies om dit te doen,” sluit Van Zyl af.

AfriForum het dit vir die publiek maklik gemaak om kommentaar teen hierdie wetsontwerp by

www.onteiening.co.za in te dien.

Soortgelyke plasings