|

Kimberley-tak maak Burger-monument skoon

AfriForum se Kimberley-tak het op 20 Mei die Burger-monument by die Magersfontein-slagveld skoongemaak en kranse neergelê. Dié projek is saam met die Rapportryerbeweging, die Voortrekkers, Landsdiens en lede van die publiek aangepak. Dié monument is al in die verlede ook deur hierdie tak skoongemaak.

Hierdie monument dien as herinnering aan diegene wat tydens die Magersfontein-veldslag gesterf het. Onder die gestorwenes wat hier begrawe is, is Adriaan de la Rey, die oudste seun van generaal J.H. de la Rey, ’n Franse kolonel, vrywilligers van Skandinawië, ’n Britse soldaat en ’n verpleegster genaamd Combrink.

“Ons moet onthou waar ons vandaan kom, sodat ons kan weet waarheen ons op pad is – dit is waarom die geskiedenis vir AfriForum van uiterse belang is,” sê Lize-Mari van der Linden, distrikskoördineerder vir die Karoo.

“Dit was ’n baie interessante dag – ek en my kinders het baie nuwe feite geleer,” sê Mizanne Fritz, sekretaris van AfriForum se Kimberley-tak.

“Hierdie monument is opgerig vir burgers wat hulle lewens vir ons volk opgeoffer het. Die minste wat ons vir hulle nagedagtenis kan doen, is om dit netjies te hou en die geskiedenis aan die volgende geslag oor te dra,” sluit Van der Linden af.

Raak vandag nog by die tak betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n boodskap na 066 321 1074.

Soortgelyke plasings