|

Upington-tak verfraai park op hoofroetes

Die park op die hoek van Borcherd- en Rondomstraat in Upington het bykans ’n gedaanteverwisseling ondergaan nadat die plaaslike AfriForum-tak sy aandag daarop gevestig het. Vullis is opgetel en verwyder, terwyl die 12 paaltjies om die park, wat weens motorongelukke uitgery is, weer in die grond geplant is. Hierdie paaltjies verhoed dat motoriste met hul voertuie in die park ry.

Hierdie park, wat naby die besige Kalahari-winkelsentrum geleë is, was tot onlangs nog ’n seeroog vir inwoners en toeriste wat deur die dorp beweeg. Nou kan die dorpenaars spog met die park se netheid. Dié hoek is ook van die besigste omdat hierdie paaie ’n deurry is vir swaar motorvoertuie en voertuie wat nie deur die dorp wil ry nie. Hierdie paaie verbind ook die hoof dorpsgebied met die woonbuurt en dan natuurlik Rondomstraat wat om Upington strek.

Al die paaltjies om die park, wat ongeveer 160 paaltjies is, is met ’n heldergeel geverf wat in die aand sal weerkaats as ligte daarop skyn. Die struktuur waarin die waterpomp en die stopkraan voorkom, is ook geverf. Die aankoop van die verf is moontlik gemaak deur die Upington-taklede wat maandeliks ’n finansiële bydrae lewer om projekte soos dié te kan dryf.

Die AfriForum-tak het ook 80 paaltjies om die ander park, wat aan weerskante van Borcherd- en Rondomstraat geleë is, geverf.

“Hierdie is maar net een van die vele projekte wat AfriForum in Upington doen en ek wil graag die gemeenskap aanmoedig om betrokke te raak by inisiatiewe soos dié,” sluit Werner Strauss, distrikskoördineerder van die Noord-Kaap, af.

Raak betrokke by AfriForum om ’n verskil te maak. Besoek www.wordlid.co.za om aan te sluit.

Soortgelyke plasings