AfriForum lewer verdoemende kritiek op Nasionale Vervolgingsgesag-wetsontwerp tydens parlementêre voorlegging

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n mondelinge voorlegging gelewer oor die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) -wetsontwerp voor die parlementêre portefeuljekomitee oor Justisie en Korrektiewe Dienste. Hierdie voorlegging het die wetsontwerp heftig gekritiseer en omvattende wysigings daarop voorgestel. AfriForum is uitgenooi om dié mondelinge voorlegging te lewer ná die indiening van diepgaande skriftelike kommentaar op 10 Oktober.

Van die probleme met die wetsontwerp sluit in dat dit geen bevredigende oplossings bied vir die huidige probleme met die NVG nie, dat dit versuim om duidelike parlementêre oorsig te verseker, dat dit ruimte laat vir politieke inmenging in die Vervolgingsgesag en dat dit sal lei tot verminderde vertroue in die Suid-Afrikaanse strafregstelsel.

“Verskillende benaderings kan gevolg word om die huidige probleme in die NVG aan te pak, maar hierdie wetsontwerp is beslis nie die aangewese oplossing nie,” beklemtoon Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum wat die voorlegging namens dié organisasie gelewer het. “Hierdie wetsontwerp is ’n resep vir politieke inmenging, en ons kan niks anders as ’n brousel van korrupsie en magsmisbruik te wagte wees as dié resep gevolg word nie.”

AfriForum se voorlegging benader die saak pro-aktief en stel verskeie oplossings voor, soos om klousules in te sluit wat parlementêre oorsig vereis, prosedures daarstel om meer oorsigtelike aanstelling van amptenare te verseker en die operasionele doeltreffendheid van die NVG sal verbeter.

“Suid-Afrika se regstelsel staan voor ’n kruispad en dit is van kardinale belang dat ons nou optree om die integriteit van ons regstelsel te beskerm en verseker dat geregtigheid kan geskied sonder vrees of vooroordeel,” sluit Boshoff af.

Bykomend tot hierdie kommentaar op die wetsontwerp word AfriForum se privaatvervolgingseenheid ook uitgebou om te verseker dat vervolging kan plaasvind selfs al verswak die NVG verder.

Soortgelyke plasings