|

SAMWU moet pa staan vir skade tydens onbeskermde staking

AfriForum verwelkom Cilliers Brink, burgemeester van die Tshwane-metro, se besluit om ’n siviele eis teen die South African Municipal Workers’ Union (SAMWU) in te dien weens skade wat gely is as gevolg van die langdurige onbeskermde loonstaking.

Volgens Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord, sal AfriForum die siviele aansoek ondersteun en die rekening wat hulle self aangegaan het om gemeenskappe te help, ook vereffen.

AfriForum het in ’n brief aan die burgemeester gesê dat daar ’n sterk regsgrondslag bestaan en dat daar streng optrede teen SAMWU geneem moet word. Hierdie tipe onbeskermde stakings kan waarskynlik weer gebeur of selfs na ander munisipaliteite uitbrei.

“Daar is prosesse wat gevolg kan word om hierdie onwettige doen en late te stop en die skuldiges tot verantwoording te bring. Dit is vir AfriForum ’n lig in die tonnel dat die Tshwane-metro uiteindelik hierdie prosesse begin ondersoek,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

AfriForum staan slaggereed om die Tshwane-metro te help en kan nie langer terugstaan en toelaat dat die onwettige stakers verder munisipale dienste ontwrig nie.

Laat weet AfriForum hoe die onwettige staking jou raak deur hierdie vorm te voltooi.

Soortgelyke plasings