|

AfriForum lig parlementêre portefeuljekomitee in oor vernietigende gevolge wat Bela-wet kan hê

Vandeesweek het ek die voorreg gehad om AfriForum se mondelinge voorlegging oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys (die sogenaamde Bela-wet) aan die parlementêre portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys te lewer. Dit het geskied in aansluiting by die uitgebreide kommentaar en senior regsmening wat AfriForum in 2017 en weer in Junie vanjaar hieroor by dié komitee ingedien het.

Dinsdag se sessie was die tweede van drie vandeesmaand waar spesifieke instellings genooi word om hulle mondelinge insette te gee en vrae van die komitee daaroor te beantwoord. Saam met AfriForum het agt ander instellings hierdie keer hulle voorleggings gedoen, naamlik die Pestalozzi Trust, FEDSAS, SADOU, Section 27, Cause for Justice, Centre for Child Law, SAIRR en COSATU. Dit het in die pragtige oudste vleuel van die parlementsgebou in Kaapstad plaasgevind – die deel wat gelukkig nie deur die brand van Januarie 2022 geraak is nie.

Die parlementêre portefeuljekomitees se doel is om ’n oorsigrol te speel oor die werk wat hulle onderskeie departemente verrig. Hulle moet ook wetsontwerpe en aanpassings aan wetgewing goedkeur voor dit aan die parlement en president vir finale goedkeuring voorgelê word en departemente se begrotings goedkeur.

Die komitee is weer herinner daaraan dat moedertaalonderrig die beste opsie vir alle leerders en geletterdheid, maatskaplike stabiliteit en ekonomiese groei oor die algemeen is.

Dinsdag is wyd uiteenlopende standpunte gestel, maar die meerderheid instellings het kommer gehad oor die grondwetlikheid van sekere wysigings wat in die wetsontwerp voorgestel word. Die Pestalozzi Trust het besware gehad oor die voorskrifte wat vir tuisonderrig gestel word, terwyl Centre for Child Law se fokus veral gerig was op die beskerming van leerders wat slagoffers van seksuele geweld in skole word, of wat weens ouers se unieke omstandighede nie oor noodsaaklike dokumente soos geboortesertifikate beskik nie. Frustrasies met ander departemente wat saam met die departement van Basiese Onderrig uitvoering van die wetgewing moet moontlik maak, maar uiters wanfunksioneel is, byvoorbeeld die departement van Binnelandse Sake, is ook geopper. Van die ander kwessies waaroor insette deur die organisasies gegee is, sluit die uitbreiding van die verpligte instelling van amptelike voorskoolse onderrig, dissiplinêre maatreëls en die aanwesigheid van alkoholprodukte op skoolterreine in.

Veral AfriForum, FEDSAS, Cause for Justice en die IRR het Dinsdag egter gefokus op die vernietigende rol wat hierdie wetgewing sou kon speel om die magte van die ouerbeheerliggame in die hande van die staat te sentreer. AfriForum se standpunt is dat die huidige stelsel ’n perfekte model binne die demokratiese bestel is. Ouerbeheerliggame word verkies deur hulle ouergemeenskappe en is dus op voetsoolvlak in die mikrobestuur van skole die mees geskikte liggame om te besluit oor hulle skole se toelatingsvereistes, taalbeleid en die aankoop van leermateriaal. Die departement moet op makrobestuur van onderwys fokus, en nie op mikrobestuur nie. Tans kan die departementele hoofde van die provinsiale onderwysdepartemente wel insette oor beheerliggaambesluite gee, maar die finale besluite daaroor berus by die ouerbeheerliggame. Die BELA-wet se voorstel keer egter die magsbalans om en stel voor dat die finale besluite nou by die departementele hoofde moet berus.

In die verlede het AfriForum gesien hoe die hoofde, byvoorbeeld die voormalige LUR van Onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, besluite neem wat op ideologiese gronde berus en nie in die belang van leerders is nie. Telkens het die skole en instellings soos AfriForum hulle na die howe gewend en tot op die vlak van die Konstitusionele Hof is uitsprake gelewer wat die huidige magsverdeling loof. AfriForum het in die besonder een aanhaling in die verband aan die komitee voorgehou, naamlik uit die Konstitusionele Hof se uitspraak van 2010 in die saak oor Ermelo Hoërskool se taalbeleid. Die hof het verklaar:

Its primary function (met ander woorde dié van die ouerbeheerliggaam) is to look after the interests of the school and its learners. It is meant to be a beacon of grassroots democracy in the local affairs of the school. Ordinarily the representatives are parents of learners and of the local community and are better qualified to determine the medium best suited to impart education in all the formative utilitarian cultural goodness that comes with it.”

Waar ouerbeheerliggame fouteer, is daar voldoende norme, standaarde, provinsiale en nasionale wetgewing in plek om die probleme op te los.

Verder is dit die plig van die staat om te verseker dat die liggame voldoende opgelei word en van die nodige hulpmiddels voorsien word om hulle taak behoorlik te kan uitvoer. Instellings soos FEDSAS speel ’n belangrike aanvullende rol in die verband. Om hierdie magte van die verteenwoordigers van die gemeenskappe weg te neem, sal hulle van die skole vervreem en die navorsing van onderwysdeskundiges het reeds oor en oor bewys dat ouerbetrokkenheid juis noodsaaklik vir skole se sukses is.

Verder bestaan die risiko veral vir die Afrikaanse gemeenskap dat enkelmedium Afrikaanse skole gedwing sal word om dubbel- of parallelmedium onderrig aan te bied. AfriForum het weer na internasionale navorsing verwys om te verduidelik dat dit vernietigend vir Afrikaanse skole sal wees, aangesien gemengde medium onderrig baie ruimte vir onenigheid op skoolterreine skep en uiteindelik onafwendbaar tot verengelsing lei.

Die komiteevoorsitter het gevra of AfriForum dan teen diversiteit en transformasie gekant is. Die antwoord was dat ons juis ten gunste daarvan is, maar nie die ideologiese model dat verengelsing gelykstaande aan transformasie is nie, maar juis dat diverse gemeenskappe self moet kan besluit oor die taal van onderrig waarby hulle kinders die meeste sal baat vind en dat hulle keuses gerespekteer sal word. Die komitee is weer herinner daaraan dat moedertaalonderrig die beste opsie vir alle leerders en geletterdheid, maatskaplike stabiliteit en ekonomiese groei oor die algemeen is. AfriForum stel voor dat die aanbod daarvan vir meer Suid-Afrikaners beskikbaar gestel moet word, in plaas daarvan om Afrikaanse skole te teiken omdat die departement in gebreke bly om genoeg skole te bou en wanfunksionele skole reg te ruk.

Volgende week vind die derde en laaste rondte mondelinge voorleggings aan die komitee plaas. Daarna is die volgende proses wat gaan volg, dat ’n openbare raadplegingsproses oor die wetsontwerp vroeg in 2023 landswyd sal plaasvind. AfriForum versoek die publiek om op die uitkyk vir die uitnodigings na hierdie sessies te bly en om aan die proses deel te neem sodat die gevaar wat die wetsontwerp vir gehalte moedertaalonderrig inhou, afgeweer kan word.

Soortgelyke plasings