Elektrisiteit

Briewe aan Eskom werp vrugte af

AfriForum het op 23 Augustus en 8 November briewe aan die elektrisiteitsreus Eskom gestuur rakende die beplande afsny van elektrisiteit in sekere areas van die Tshwane-metro.

Dit volg nadat Eskom ’n kennisgewing uitgestuur het oor die Tshwane-metro wat versuim het om hulle ooreenkoms met Eskom na te kom deur nie hulle maandelikse betaling betyds aan die energiereus te maak nie.

“Daar is in die tydperk wat die Eskom-kennisgewing en AfriForum se eerste brief uitgestuur is wel kleiner dorpies, aan die buitewyke van die Tshwane-metro, se elektrisiteit afgesit,” sê Dewet Ungerer, distrikskoördineerder vir die Groter Pretoria-Suid.

AfriForum verwelkom die besluit deur Eskom om saam met die Tshwane-metro aan alternatiewe oplossings te werk om nie die belastingbetaler verder op hul knieë in hierdie moeilike tye te dwing nie.

“Dit is onregverdig om inwoners wat getrou hulle elektrisiteitsrekeninge aan die munisipaliteit betaal te straf omdat die Tshwane-metroraad nie hulle betalingsooreenkoms met Eskom nakom nie. Ons sal aanhou om die situasie te moniteer en seker maak dat die geskil tussen Eskom en die Tshwane-metro nie die gemeenskap uitbuit nie,” sê Sampie Steinberg, distrikskoördineerder vir die Groter Pretoria-Noord.

Raak vandag nog by ’n AfriForum-tak betrokke deur ’n epos aan gemeenskapsake.navrae@afriforum.co.za te stuur.

Soortgelyke plasings