|

AfriForum lig VN in oor dreigende waterkrisis, versoek ingryping

AfriForum het vandag ’n versoekskrif aan die Verenigde Nasies (VN) se spesiale rapporteur vir menseregte op veilige drinkwater en sanitasie gerig waarin die omvang van Suid-Afrika se waterkrisis weergegee word en ingryping gevra word. Alhoewel AfriForum op verskeie gebiede toetree om skoon en veilige drinkwater te eis, was die organisasie genoodsaak om die land se water- en rioolkrisis onder die VN se aandag te bring.

Die organisasie het die rapporteur versoek om in gesprek te tree met hulle en ander rolspelers oor die waterkrisis in die land, om die land te besoek sodat die waterkwessies ondersoek kan word, asook om met die regering en verteenwoordigers van die burgerlike samelewing te ontmoet.

Die agteruitgang van die land se water- en rioolinfrastruktuur, asook die swak bestuur van waterbronne is ’n groot bron tot kommer – veral omdat Suid-Afrika ’n waterskaarsland is.

Volgens Marais de Vaal, raadgewer vir Omgewingsake by AfriForum, is die organisasie by talle gevalle betrokke waar munisipale amptenare nie hul verpligtinge nakom nie. “Wanneer die publiek die howe nader en ’n hofbevel teen die munisipaliteit bekom word, word dit eenvoudig deur die munisipaliteit geïgnoreer. Indien die Departement van Water en Sanitasie (DWS) beveel word om in te gryp, word slegs beloftes gemaak en tweede kanse aan munisipaliteite gegee. Jare gaan verby sonder enige verandering op grond vlak en uiteindelik is dit die publiek wat daaronder lei.”

Daar is dus duidelike bewyse dat die DWS nie optree om die beperkte waterbronne reg te bestuur nie. As die bewaarder van water het die DWS verlede jaar vir die eerste keer sedert 2013 sy blou- en groendruppelverslag bekend gemaak.

Volgens Lambert de Klerk, bestuurder vir Omgewingsake by AfriForum, is hierdie verslae tekenend daarvan dat die land se water nie reg bestuur word nie en dat ons op ’n groot krisis afstuur. “Luidens die regering se 2023 interim verslag gaan 46% van die water wat aan munisipaliteite voorsien word in die verspreidingsnetwerke verlore weens lekkasies. 71% van die land se drinkwatersisteme voldoen ook nie aan die chemiese standaarde nie.”

AfriForum gaan vanjaar as deel van die organisasie se nasionale blou-en-groendruppelverslag ook volledige oudits van ’n drinkwatersuiweringsaanleg en ’n rioolwatersuiweringsaanleg doen in die noord-, sentraal- en suidstreek.

In die versoekskrif word die swak toestand van die land se rioolwerke ook onder die loep geneem. Rou riool word in baie gevalle direk in riviere ingepomp weens die swak toestand van die land se rioolwerke. Dit veroorsaak dikwels dat inwoners van die omliggende dorpe waar dit plaasvind, siek word. AfriForum was vroeër vanjaar genoodsaak om watertoetse op verskeie plekke langs die Vaalrivier te doen ná ’n cholerauitbreking waartydens 43 mense gesterf het. Alhoewel die water wat uit die rivier gepomp word behandel word voordat dit aan inwoners gelewer word en die drinkwatertoetse getoon het dat die water veilig is vir menslike gebruik, het sommige toetse wel getoon dat daar cholera en E. coli in die watermonsters was wat by die rivier geneem is.

Nog ’n kommerwekkende saak wat onder die VN se aandag gebring is, is gemeenskappe wat wateronderbrekings ervaar of vir weke sonder water is weens beurtkrag of beurtwater. AfriForum het in Mei vanjaar ’n hofbevel teen Rand Water in die Hooggeregshof in Pretoria bekom nadat dié waterraad die waterdruk na die dorpe in die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit verlaag het. Dié munisipaliteit se onvermoë om hulle uitstaande skuld te betaal het daartoe gelei dat inwoners van dorpe in dié munisipale gebied heeltemal sonder water was.

In hierdie geval en ook in soveel ander gevalle in dorpe wat gereeld watertekorte ervaar waar daar AfriForum-takke is, is noodwaterpunte opgerig om inwoners toegang tot water te gee.

Die VN is ook ingelig oor die omstrede voorgestelde raskwotas vir watergebruik wat vroeër vanjaar in die Staatskoerant gepubliseer is. Indien hierdie regulasies deurgevoer word, sal dit bepaal dat mense wat aansoek doen om waterlisensies 75% swart eienaarskap moet hê. AfriForum skryf in die versoekskrif dat die voorgestelde rasregulasies vir water nie net onwettige en diskriminerend is nie, maar dat dit ook verbied word in terme van die Universele Handves van Menseregte wat Suid-Afrika bekragtig het.

“Hierdie versoekskrif aan die spesiale rapporteur is ’n poging om die sistemiese probleme ten opsigte van waterbestuur en dienslewering te takel. As ’n mens na die geheelbeeld kyk, word die omvang van die krisis – wat strek van die besoedeling van varswaterbronne tot die sub-standaard gehalte van drinkwater, langdurige onderbrekings in watervoorsiening en diskriminasie ten opsigte van toegang tot water en sanitasie – duidelik. Dit skets ’n kommerwekkende prentjie,” sê Marais De Vaal.

Soortgelyke plasings