|

AfriForum loods veldtog om privaateiendomsreg teen ANC-aanslae te beskerm

AfriForum het vandag ’n omvattende veldtog geloods teen die onteieningswetsontwerp wat soos ’n swaard oor privaateiendomsreg in Suid-Afrika hang.  Hierdie veldtog sal op plaaslike en nasionale asook internasionale vlak gedryf word.

Ons beskou hierdie wetgewing as gevaarlik.

“Ons beskou hierdie wetgewing as gevaarlik. Daar is baie voorbeelde van ekonomieë wat deur ’n fase van stadige agteruitgang gegaan het voordat daar ’n skielike ineenstorting was. Suid-Afrika se ekonomie gaan ongetwyfeld reeds stadig agteruit en hoewel ons nie sê ’n skielike ineenstorting kom nie wil ons die stadige agteruitgang stop en selfs die ekonomie kry om te groei,” sê Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum.

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum

Een van die probleme met die onteieningswetsontwerp is die bewoording daarvan wat nie net na vastebates soos plase of ondernemings verwys nie, maar ook na enige ander eiendom insluitend intellektuele eiendom.

Privaateiendomsreg is krities belangrik om beleggers na die land te lok en ekonomiese groei te bevorder.

“Privaateiendomsreg is krities belangrik om beleggers na die land te lok en ekonomiese groei te bevorder. Ons hoef net na Zimbabwe te kyk om te sien wat gebeur as privaateiendomsreg sneuwel,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“Hierdie wetsontwerp sal uiters negatiewe gevolge vir die land hê. Nie net sal dit die finansiële sektor lamlê nie, maar daar sal nog meer geleenthede vir korrupsie geskep word.”

Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum

Van Zyl sê die ANC-regering meen die wetsontwerp is nodig omdat die konsep van gewillige verkoper en koper nie gewerk het nie, maar inderwaarheid is minder as 7% van grond wat deur die regering op hierdie wyse bekom is wel aan nuwe eienaars beskikbaar gestel is. Dikwels beland die grond wat wel beskikbaar gemaak word in elk geval in die hande van ’n ANC-kader of iemand anders met politiese konneksies.

Ernst van Zyl

Op nasionale vlak behels AfriForum se veldtog ’n manifes wat reeds deur 13 burgerregte-, landbou-, politieke en ander organisasies onderteken is. AfriForum se regspan het ook vandag ’n brief aan president Cyril Ramaphosa geskryf. Hierdie brief lig die onteieningswetsontwerp se ongrondwetlikheid en gevare uit. Op grond hiervan word die president versoek om die wetsontwerp terug te verwys na die wetgewer en dat dit vooraf na die Konstitusionele Hof verwys word.

AfriForum gaan op plaaslike vlak sy takke mobiliseer om die manifes aan hul provinsiale regerings te oorhandig. As deel van die internasionale komponent van die veldtog, gaan AfriForum briewe rig aan die ambassades in die land. In hierdie briewe versoek AfriForum dat hierdie ambassades hul tuislande in kennis sal stel van die nuutste bedreiging van privaateiendomsreg in Suid-Afrika. AfriForum beplan ook om die uitgebreide netwerk van kontakte wat die organisasie oor die jare in die buiteland opgebou het, in te lig oor die gevare van die onteieningswetsontwerp.

In 2021 het die ANC se pogings om die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, gesneuwel toe daar nie in die parlement ‘n tweederde meerderheid stemme daarvoor bereik is nie. Die onteieningswetsontwerp is volgens die ANC self net nog ’n instrument om onteiening sonder vergoeding  moontlik te maak.

Van Zyl sê almal kan help om hierdie wetsontwerp te beveg. Besoek www.onteiening.co.za om AfriForum se manifes te lees en jou naam as ondersteuner daarby te voeg.

Soortgelyke plasings