|

Nuuskommentaar: Ramaphosa is die een wat in die verlede bly vassteek

Pres. Cyril Ramaphosa het op Menseregtedag in Koster oudergewoonte die geleentheid gebruik om ’n steek na wit mense in te kry. Hy het op ’n byeenkoms ter viering van die dag gepraat oor hoe rassisme nie met die beëindiging van apartheid tot ’n einde gekom het nie. Dis sekerlik waar, maar die ANC-regering help nie juis nie en gebruik vandag elke moontlik geleentheid om die raskaart te speel.

Dit is maklik om te verstaan waarom die ANC so gretig is om knaend en aanhoudend van rassisme te praat. Dit is vir hulle ’n maklike manier om hierdeur ’n groot gedeelte van die inwoners van die land se aandag af te lei van die ANC se onbeholpe en korrupte regering.

Dis nogal ironies, of dalk opsetlik, dat die president juis Koster van alle plekke gekies het om te verkondig hoe sekere wit mense die land probeer terugtrek na ’n verlede waar rassepolarisasie geseëvier het. Koster is een van die dorpe in die land waar die munisipaliteit so swak funksioneer dat plaaslike inwoners ’n hofbevel bekom het om die watervoorsiening in die dorp oor te neem aangesien krane heeltemal opgedroog het.

Die gemeenskap en Pionier Dienstemaatskappy het mense met die regte vaardighede, eerder as “kaders”, betrek en die watertoevoer was binne ’n week na die grootste gedeeltes van die dorp herstel. Maar in plaas daarvan om die gemeenskap te bedank of ten minste iets uit die gebeure en swak bestuur te leer, het die ANC-beheerde munisipaliteit die hand van hulp weggeklap en op omstrede wyse ’n tydelike oorwinning in die hof behaal om die water- en rioolwerke weer oor te neem…. net sodat die krane weer kan opdroog en die inwoners daaronder kan ly.

Koster is so teen die grond dat daar selfs berig is hoe riool in die strate van die dorp afgeloop het terwyl Ramaphosa sy toespraak gelewer het.

Ondanks hierdie toedrag van sake, wat ’n skending van die mense van Koster se waardigheid en regte is, het die president eerder verkies om te fokus op hoe rassisme en die vernedering van swart mense ’n “apartheidsgruwel” is. Hy het selfs sovêr gegaan om eerder na die 2008-moorde in Skierlik te verwys toe Johan Nel vier mense doodgeskiet en verskeie ander gewond het.

Dít terwyl hy geen woord gerep het oor die honderde plaasaanvalle en -moorde wat jaarliks in die land plaasvind nie. Om nie eens te praat van die rassehaat wat Jacob Zuma en Julius Malema amper op ’n daaglikse basis aanblaas nie. Hieroor het die president gerieflikheidshalwe eerder geswyg….

Ja, meneer die president, daar is wit mense wat rassiste is, maar daar is eweneens ook swart mense wat rassiste is.

Die ANC-regering help nie juis nie en gebruik vandag elke moontlik geleentheid om die raskaart te speel.

In dieselfde toespraak het Ramaphosa ook teen xenofobie in die land uitgevaar. Is dit dan nie ook ’n vorm van rassisme nie en nie juis iets wat met wit mense in ons land geassosieer word nie?

Dit is hoogtyd dat die narratief van wit mense wat verantwoordelik is vir alle probleme in die land met die minagting wat dit verdien van die tafel gevee word. Die president sal sy fokus moet verander as hy nie gebrandmerk wil word as iemand wat ook maar net tot rassepolarisasie bydra nie. Dis tyd om korrupsie te pak, die ontplooiing van kaders te staak, dienste te lewer waarvoor belastings ingevorder word, misdaad te bekamp, werk te skep en armoede te bekamp. Miskien sal rassisme dan vanself tot ‘n einde kom.

Soortgelyke plasings