|

AfriForum maak ’n verskil tydens #VegEnBou-week in Upington

Die AfriForum-tak in Upington het van 22 – 30 Maart verskeie aksies in Upington aangepak as deel van hulle #VegEnBou-week.

Die tak het op 22 Maart die hoek van Dr. Nelson Mandelarylaan en Hillstraat skoongemaak en die bome gesnoei om die sypaadjies meer toeganklik te maak vir voetgangers. Die tak het drie bakkievragte tuinvullis en twee bakkievragte rommel verwyder.

Op 22 en 23 Maart het taklede ook ’n skoonmaakaksie by die Upington Internasionale Lughawe aangepak. Die tak het talle klagtes ontvang oor die toestand van die lughawe. Dié lughawe is van kritiesebelang vir toerisme in die Noord-Kaap. Die tak het die tuine en paaie skoongemaak, gras gesny en bome gesnoei. Sowat 160 sakke vol tuinvullis is verwyder.

Op 24 en 25 Maart het die tak die park in Rondomstraat netjies gemaak sodat die gemeenskap weer die park kan benut en geniet. Die tak het ook bouers gekry om die muur langs die park, wat vier maande gelede tydens ’n motorongeluk beskadig is en nooit herstel is nie, te herbou. 

Die tak het op 29 Maart die sirkel en middelman wat tussen Dr. Nelson Mandelarylaan, Borchet- en Bultstraat is, skoongemaak. Die tak het 70 sakke vullis en tuinafval verwyder, drie sproeiers vervang en ander sproeiers herstel.

Die takbestuur wil graag die vrywilligers bedank wat hul tyd, hulpbronne en energie ingesit het om hierdie week ’n sukses te maak. Die takbestuur wil in besonder die volgende mense en ondernemings bedank vir hulle hulp en bydraes tydens hierdie week: Henk Opperman (DA-raadslid) wat sy bakkie aan die tak beskikbaargestel het tydens van die skoonmaakaksies. Johan Bezuidenhout van BB Spares en Dixon Batterye wat ’n agt ton trok aan die tak beskikbaargestel het om groot hoeveelhede tuinafval mee weg te ry. Upington Tuindienste wat die tuinafval ontvang het – die tuinafval word gebruik om kompos te maak. Husselman Stene wat stene verskaf het om die muur langs die park te herbou. Lumber City vir die verf en toerustng om die herboude muur te verf en Enson Elektries wat verwers gereël het. Sakkie Spangenberg en Phillo Nel wat hul kettingsae ingespan het om bome te snoei.

“As die Dawid Kruiper Munisipaliteit nie hul basiese pligte aan die gemeenskap na wil kom nie dan moet die gemeenskap maar na homself kyk. Upington maak staat op toerisme en indien niemand na die dorp kyk nie gaan toeriste nie meer die dorp besoek nie,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder in die Kalahari. “Dit is egter verblydend om te sien hoe ’n gemeenskap inisiatief neem en saam werk om ’n verskil te maak. Soms voel dit dalk of iets klein net ’n drupel in die emmer is maar op die ou end maak baie druppels die emmer vol. Dit maak mens trots.”

Maak vandag nog ’n verskil in jou gemeenskap en raak betrokke by jou plaaslike AfriForum-tak: SMS jou naam na 45350  (R1).

Soortgelyke plasings