AfriForum maak sy nasionale blou- en groendruppeluitslae bekend


Die burgerregte-organisasie AfriForum het gedurende Mei en Junie vanjaar die gehalte van drink- en rioolwater in 156 Suid-Afrikaanse dorpe getoets. Drie dorpe (Ellisras, Heilbron en Villiers) se drinkwater het nie voldoen aan die nasionale standaarde vir drinkwater nie. Nadat die betrokke munisipaliteite nie ag geslaan het op die probleem nie, het AfriForum van nuwe watersuiweringstegnologie gebruik gemaak om die water skoon te maak.
Hierdie toetse vorm deel van dié organisasie se blou- en groendruppelveldtog waarby die onderskeie dorpe se gemeenskappe betrek is, opleiding gegee is en die nodige toerusting na elke AfriForum-tak in Suid-Afrika versprei is.

“Sedert 2013 is die land se waterbronne onder druk na droogtes wat in groot dele van die land voorgekom het en steeds dele van die Wes-Kaap, Noord-Kaap en Oos-Kaap affekteer. Gemeenskappe moet aandring op hul reg om toegang te hê tot skoon, lopende water en moet die onderskeie munisipaliteite tot verantwoording roep deur gereeld die gehalte van drink- en rioolwater te monitor. Die watertoetse wat AfriForum gedoen het, toon kommerwekkende resultate, veral wat betref swak rioolbestuur, en dui op die verdere verval van Suid-Afrika se infrastruktuur en ‘n tekort aan bekwame personeel om waterinstellings te bestuur. AfriForum het die dorpe gewaarsku wat nie binne die gestelde mikrobiologiese standaarde val nie en die betrokke munisipaliteite versoek om die waterstandaard binne 24 uur te herstel,” Marcus Pawson, AfriForum se hoof van Omgewingsake.
“Die Departement van Water en Sanitasie (DWS) asook die plaaslike munisipaliteite is verantwoordelik vir die rioolkrisis waarbinne die land homself bevind en di­t ten spyte van ‘n begroting van meer as R15 miljard vir die DWS,” sê Pawson.

Hy sê verder dat die departement se aanstelling van 31 Kubaanse ingenieurs ‘n vrugtelose en verkwissende uitgawe is, aangesien hulle reeds twee jaar in Suid-Afrika werksaam is sonder dat die land se infrastruktuur enige verbetering toon. Di­t terwyl Suid-Afrika oor sy eie kundiges beskik om die werk te kan verrig teen ‘n meer bekostigbare begroting.
Die departement het in die 2015/2016 finansiële jaar R827 miljoen aan die Departement van Finansies teruggegee omdat die geld nie bestee is nie. Dit bring die onbestede bedrag vir die afgelope paar jaar op meer as R2 miljard te staan; terwyl ‘n geskatte 4 200 megaliter rou riool daagliks in ons rivierstelsels beland.
Bloudruppel

Die gehalte van drinkwater is in die meeste munisipaliteite regoor Suid-Afrika getoets, en drie van hierdie munisipaliteite het nie aan die gehaltestandaarde vir drinkwater voldoen nie. “Die 2014-resultate het getoon dat die drinkwaterstelsels van 11 dorpe nie aan die standaarde voldoen het nie, terwyl hierdie getal in 2015 na vyf dorpe verminder het en in 2016 weer verhoog het na sewe dorpe uit 132,” sê Pawson.

AfriForum het die gemeenskapslede van die bogenoemde areas gewaarsku om nie die water te drink nie, terwyl die betrokke munisipaliteite kennis ontvang het om die gehalte van hulle water reg te stel. Opvolgmonsters dui aan dat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit aan AfriForum se versoek gehoor gegee het en dat die water nou skoon is. Die Lephalale Plaaslike Munisipaliteit het ook gehoor gegee aan AfriForum se versoek, maar die drinkwater is esteties nog nie op standaard nie en voldoen dus nie aan die bepaalde standaarde vir drinkwater nie.
Die dorpe Villiers en Qalabotjha, wat binne die jurisdiksie van die Mafube Plaaslike Munisipaliteit is, gaan gebuk onder swak waterdienste. Die munisipaliteit hier het in geheel verbrokkel en lewer min tot geen dienste nie. Gevolglik het die gemeenskap self die watersuiweringswerke oorgeneem en verskaf onafhanklik van die staat, skoon drinkwater aan dié dorpe.
Groendruppel
AfriForum het in Mei en Junie 2017 die rioolwaterstelsels van 88 dorpe getoets, waarvan 59 nie aan die gestelde gehaltestandaarde voldoen het nie, vergeleke met 26 uit 72 rioolwaterstelsels wat in 2016 nie aan die standaarde voldoen het nie. Dit is duidelik dat die bestuur van rioolafvalwaterbehandelingswerke (RAWBW) in Suid-Afrika drasties aan die verswak is.

“AfriForum het vanjaar daarin geslaag om verskeie munisipaliteite se afvalwater te toets nadat die organisasie in die verlede deur sommige munisipaliteite toegang tot sekere rioolwaterstelsels geweier is. Di­t maak sin as die bedenklike stand van afvalwaterbestuur in die land in ag geneem word – ‘n gemiddeld van 67% van Suid-Afrikaanse rioolwaterstelsels funksioneer nie binne die regulatoriese vereistes nie. ‘n Algehele afname in rioolwaterbestuur is vanjaar regoor Suid-Afrika waargeneem,” verduidelik Pawson.
“Die 59 afvalwaterbehandelingsaanlegte wat nie aan die standaarde voldoen nie, kan ‘n bedreiging vir menslike gesondheid, voedselsekerheid en die omgewing inhou. Die standaard van rioolwaterstelsels behoort in 2017 as ‘n prioriteit beskou te word, gegewe die droogtetoestande in Suid-Afrika en die feit dat die land ‘n waterskaars land is,” sê Pawson.

Suid-Afrika se nasionale watergehaltestandaarde maak voorsiening vir 1 000 eenhede E. coli per 100 ml water in behandelde rioolwater in algemene afvalwaterlimiete.
AfriForum is in die proses om briewe aan die bogemelde munisipaliteite uit te reik om hulle in kennis te stel dat daar nie aan die gestelde vereistes voldoen word nie. Die burgerregte-organisasie onderneem verder om homself regoor Suid-Afrika te posisioneer en jaarlikse evaluasies soos hierdie te behartig om sodoende die infrastruktuur deurlopend te monitor.
Volgens die Departement Water en Sanitasie se bloudruppelverslag vir 2014 is 1 036 drinkwaterstelsels geëvalueer, waarvan slegs 44 aan standaarde vir bloudruppelstatus voldoen het. Die opsommende groendruppelverslag van 2013 het aangedui dat slegs 60 uit 824 afvalwaterstelsels groendruppelstatus ontvang het.
Pawson is van mening dat AfriForum se uitslae as die betroubaarste inligting vir ‘n nasionale beeld van Suid-Afrika se waterbestuur beskou kan word, gegewe die Departement van Water en Sanitasie se weerhouding van die bloudruppelverslag sedert 2014 en die groendruppelverslag sedert 2013.
* Vir die name en verdere besonderhede van dié dorpe wat nie aan die standaarde voldoen het, kontak Marcus Pawson van AfriForum by marcus@afriforum.co.za of Chris Boshoff by chrisb@afriforum.co.za. 

Soortgelyke plasings