|

AfriForum mobiliseer landwyd vir openbare raadpleging oor skolewetsontwerp

AfriForum mobiliseer sy strukture landwyd om sterk standpunt in te neem teen die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys wat in Maart 2022 vir openbare raadpleging beskikbaar gestel sal word. Dit volg nadat die parlementêre portefeuljekomitee vir basiese onderwys besluit het dat so ’n proses weer onderneem moet word.

Dié burgerregteorganisasie beskou dié wetsontwerp as deel van die ANC-regering se haatveldtog teen Afrikaanse kinders en skole. AfriForum maak al vir meer as vyf jaar lank beswaar teen die inhoud van die beplande wetgewing, wat onder meer besluite oor skole se toelatings- en taalbeleid in die hande van die staat wil sentraliseer, pleks van in die hande van die gemeenskappe waarin die skole geleë is. Tog bly hierdie voorstelle deel van elke nuwe weergawe van die wetsontwerp wat die lig sien.

“Die ANC-regering is magshonger en het by monde van byvoorbeeld die Gautengse LUR vir Onderwys, Panyaza Lesufi, al hul haat vir Afrikaans en weersin in Afrikaanse onderrig duidelik gemaak,” sê Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake.

Sy noem dat AfriForum se regsmening gereed is vir voorlegging en dat die organisasie lede op grootskaal sal mobiliseer om aan die openbare raadplegingsproses oor die wetsontwerp deel te neem.

“AfriForum word gereeld gekontak deur ouers van Afrikaanse skole wat deur die onderwysdepartement onder druk geplaas word om te verengels. Parallelmediumskole loop uiteindelik die pad om enkelmedium- Engelse skole te word, soos ons onlangs weer in die geval van Laerskool Theresapark gesien het. Openbare universiteite het reeds teen die internasionaal erkende voordele van moedertaalonderrig standpunt ingeneem deur te verengels. Ons kan nie toesien dat ons kinders op skoolvlak ook van die reg ontneem word en seggenskap oor die taal, aard en finansies van hul skole van gemeenskappe weggeneem word nie,” voeg sy by.

AfriForum het ’n aanlyn petisie van stapel gestuur om byvoorbaat steun teen die wetsontwerp te werf. Die petisie kan by www.redafrikaans.co.za onderteken word.

Soortgelyke plasings