|

AfriForum: NGV-proses gedoem om te misluk

AfriForum het pas bevestiging ontvang dat die tydperk vir die indiening van kommentaar op die wetsontwerp op nasionale gesondheidsversekering (NGV) tot 29 November 2019 uitgestel is. Die aanvanklike sluitingsdatum was 11 Oktober 2019, soos genoem in AfriForum se verklaring vroeër vandag.

“Die feit dat die sluitingsdatum vir die lewering van kommentaar op die NGV weer eens uitgestel is, is tekenend daarvan dat die departement van gesondheid nie gereed is om ’n projek van hierdie omvang van stapel te stuur nie en dat dit gedoem is om te misluk. Die implementering hiervan kan die totale ineenstorting van Suid-Afrika se gesondheidstelsel tot gevolg hê, veral gegewe die swak uitslag van die NGV se loodsprojekte,” sê Natasha Venter, AfriForum se woordvoerder vir die NGV.

AfriForum het verlede maand sy kommentaar teen die NGV by die parlementsgebou ingedien. Die publiek kan egter steeds AfriForum se kommentaar aan die portefeuljekomitee vir gesondheid stuur deur na www.afriforum.co.za/afdelings/veldtogte/nasionale-gesondheidsversekering/ te gaan.

Soortgelyke plasings