|

Dorpsontwikkeling buite Klerksdorp kan kameeldoringwoud vernietig – AfriForum

AfriForum maak opnuut beswaar teen Palmietfontein-dorpstigtingsproses

AfriForum se Klerksdorp-tak het gister (11 Desember) opnuut beswaar by die Matlosana Munisipaliteit ingedien rakende die beplande ontwikkeling van gedeeltes van die plaas Palmietfontein 403. Die beswaar is namens inwoners en taklede ingedien en wys onder meer daarop dat indien die beoogde ontwikkeling, wat in die noordooste van Klerksdorp aan Doringkruin grens, voortgesit word, dit moontlik een van die grootste oorblywende kameeldoringwoude in die omgewing kan vernietig.

Hoewel AfriForum nie in wese gekant is teen ontwikkeling en dorpstigting nie, hou dié burgerregteorganisasie vol dat aansoeke om ontwikkeling eers aan alle wetlike aspekte, insluitend ’n behoorlike openbaredeelnameproses, moet voldoen. Volgens AfriForum is aspekte soos die doeltreffendheid van die openbaredeelnameproses, die impak van die beoogde ontwikkeling en die inskakeling van riool- en waterdienste op Klerksdorp se reeds wankelrige stelsel nie na behore oorweeg in die Palmietfontein-ontwikkelingsaansoek nie.

AfriForum se beswaar gaan eerstens oor die bekendmaking van die voorneme om ’n dorp op die plase te stig. Inwoners van Klerksdorp, en Doringkruin in die besonder, is nie behoorlik in kennis gestel van die voorgenome dorpstigting nie en kennisgewings op die terrein voldoen ook nie aan die vasgestelde voorvereistes nie. Daar is byvoorbeeld kennisgewings aangebring op die grensdrade van die gedeeltes wat aan die Matlosana-winkelsentrumpad grens. Dié kennisgewings is egter sodanig deur die wind en weer verniel, dat dit nie van die pad af sigbaar of leesbaar is nie. Daarbenewens is die kennisgewings nie toeganklik nie, aangesien voertuie nie op die pad mag stilhou nie. Die plasing van dié kennisgewings beïnvloed uiteindelik die doeltreffendheid van openbare deelname, luidens AfriForum.

Tweedens meen AfriForum is die impak wat die voorgestelde ontwikkeling op ’n uiters sensitiewe ekologiese gebied kan hê, rede tot kommer. Gedeeltes van Palmietfontein is vleiland en vorm deel van ’n belangrike wateropvangsgebied. Water wat hier opgevang word, vloei eers in die Schoonspruit en daarna in die Vaalrivier. Die voorgestelde konstruksie van ’n hooftoegangspad hier kan lei tot die verlies van vleilandhabitat aangesien padkonstruksie moontlik die natuurlike hidrologie van die vleilande kan verander. Dié veranderinge in watervlakke en vloeipatrone kan ’n negatiewe impak op die vleiland se fauna en flora hê.

Voorts is een van die grootste oorblywende kameeldoringwoude in die omgewing ook hier te vinde. Die kameeldoringboom (Acacia erioloba) word onder die Nasionale Wet op Omgewingsbestuur (107 van 1998) beskerm. Indien ontwikkeling hier voortgaan, sal dit volgens AfriForum, moontlik die kameeldoringwoud vernietig. 

Derdens benadruk AfriForum dat die planne om die nuwe dorpsgebied by die bestaande dienstestrukture aan te sluit, onhaalbaar is. Die bestaande stormwater-, riolering-, water- en elektrisiteitsinfrastruktuur is reeds onvoldoende, en verdere ontwikkeling hier, sal hierdie wankelrige strukture onder selfs meer druk plaas.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, het AfriForum ’n aanlyn petisie teen die huidige Palmietfontein-proses van stapel gestuur. Meer as 500 mense het reeds dié petisie onderteken en toon dit duidelik dat inwoners van Klerksdorp die beswaar teen die huidige proses ondersteun.

“Hierdie is net weer ’n bewys dat die munisipaliteit allerlei kortpaaie neem om ontwikkelings deur te druk sonder dat daar behoorlike openbaredeelnameprosesse gevolg is. Inwoners moet bedag wees op kennisgewings van dié aard en dit aan die groot klok hang sodat die gemeenskap hul stem kan laat hoor,” sê Pretorius.

Word deel van die oplossing – kontak Theo Gresse by 083 232 3405.

Foto: Wikipedia, Neelix

Soortgelyke plasings