|

AfriForum-buurtwag in Stilfontein hou dorp veilig gedurende feestyd

Die AfriForum-buurtwag in Stilfontein het gedurende die feestyd aktief die gemeenskap veilig gehou. Sowat 37 aktiewe patrollielede het 103 patrollies gery en nagenoeg 4 000 km afgelê in hierdie tydperk.

Die buurtwaglede het by verskeie insidente hulp verleen. Daar is onder meer by 11 ongelukstonele hulp verleen waar die buurtwag dikwels die toneel beveilig het en die verkeer reguleer het. Die buurtwag het ook in samewerking met sekuriteitsmaatskappye in die omgewing koperkabeldiewe arresteer en ’n groot hoeveel koperkabels teruggevind. Toerusting wat gebruik word vir kabeldiefstal is ook op twee geleenthede gevind en aan die SAPD oorhandig. Die buurtwag het ook op ander geleenthede persone arresteer wat by huisbrake betrokke was of op heterdaad betrap is tydens ’n diefstal poging.

Die buurtwag het ook reageer op vyf insidente van huisbrake waar hulle die tonele beveilig het en in sommige gevalle die skade herstel het aangesien die eienaars nog met vakansie was. Daar was ook twee gevalle waar dakteëls vervang is, wat tydens die inbraak gebreek is, om verdere skade aan die eiendom te voorkom. Buurtwaglede het ook op gesteelde mangatdeksels afgekom wat diewe wou verkoop en die buurtwaglede kon die transaksie verhoed.

Op 15 Desember het buurtwaglede diens gedoen by die OTM in die middedorp om te voorkom dat mense wat SASA-geld onttrek, beroof word of die kaarte gesteel word. Op 25 Desember het lede vanaf 09:00 tot 12:00 die Stilfontein begraafplaas gepatrolleer sodat mense wat hulle geliefdes se grafte op Kersdag wou besoek, dit veilig kon doen.

Een van die hoogtepunte was die buurtwag se betrokkenheid by die jaarlikse LIONS Kersfees-run waar lekkers aan die kinders in die gemeenskap uitgedeel is.

Op 31 Desember het agt voertuie die dorp patrolleer en hulp verleen by verskillende insidente, onder meer waar ’n hond tussen palissades vasgesit het.

“Die sigbaarheid van die buurtwag tydens die feestyd het ’n impak gehad op Stilfontein se misdaadsyfer. Sukses word nie net gemeet aan arrestasies wat gemaak is ná misdade reeds gepleeg is nie, maar ook aan hoeveel misdade nié gepleeg is nie omdat die buurtwag sigbaar was en misdadigers nie die geleentheid gehad het nie. Buurtwaglede het selfs paaie skoongemaak ná ongelukke en huise help skoonmaak wat onder water was as gevolg van al die reën,” sê Marius Trollip, buurtwagleier in Stilfontein. “Die buurtwag het gewys dat veiligheid nie net gaan oor misdaadbekamping nie, maar die positiewe bydra wat ons lewer in die gemeenskap waar ons is en dit is iets wat die buurtwaglede voortreflik gedoen het.”

“Dit is ongelooflik dat vrywilligers bereid is om so om te sien na hulle gemeenskap se veiligheid. Baie dankie aan elke buurtwaglid wat opofferings gemaak het in hierdie tyd. Ek moedig inwoners wat nog nie aktiewe lede van die buurtwag is nie, om onverwyld aan te sluit,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Indien jy wil betrokke raak, kontak vir Marius Trollip by 082 494 4123.

Soortgelyke plasings