|

AfriForum: Onreëlmatige uitgawes van Tshwane Metro wek kommer

AfriForum het met kommer kennis geneem van onlangse mediaberigte oor onreëlmatige uitgawes van die Tshwane Metro wat ongeveer R1 miljard beloop. Dié onreëlmatige besteding kon eerder aangewend geword het om verskeie probleme in Pretoria uit die weg te ruim en om werkbare oplossings vir die probleme te vind.

Die organisasie het die afgelope jaar hard gewerk om teen staatsverval te veg en om druk op die metro toe te pas om te verseker dat dienslewering plaasvind en grondgrype en besoedeling uit die weg geruim word.

AfriForum het reeds verskeie kere vrae aan die Tshwane Metro gerig oor die toestand van die Rooiwal-rioolaanleg wat nie behoorlik in stand gehou word nie en erge besoedeling in die Apiesrivier veroorsaak. Hierdie besoedeling het ’n groot impak op plase en huishoudings in die gebied en op ander waterbronne. Dié rioolwerke is weer tydens vanjaar se blou-en-groen-druppelprojek besoek en AfriForum het hul kommer oor die toestand van die rioolwerke met die Tshwane Metro bespreek. AfriForum het ook onlangs foto’s ontvang van hoe die Apiesrivier besoedel word.

Grondgrype op staatsgrond het verder drasties toegeneem met onwettige strukture wat regoor die stad opgerig word. Van hierdie grondgrype sluit in by Wolwespruit, SuperSport-park, op die R21 naby Olifantstraat en in Moreletapark agter die Wingatepark Gholfbaan. AfriForum het verskeie navrae aan die metro gerig oor dié grondgrype en het ook hul buurtwagte in die gebiede gevra om nuwe strukture, wat byna daagliks opgerig word, dadelik aan te meld. Hierdie grondgrype het nie net ’n impak op misdaad in die gebied nie, maar ook op die eiendomswaarde van huise en sakeondernemings. Dit veroorsaak ook dat entrepreneurs nie nuwe ondernemings in die omgewing wil begin nie.

AfriForum het ook druk op die metro uitgeoefen oor dienslewering regoor Pretoria. Stakende werkers veroorsaak dat vullis vir weke aaneen nie verwyder word nie wat gesondheidsrisiko’s vir inwoners inhou. Onwettige storting het ook toegeneem en bourommel word langs hoofpaaie gestort.

“Dit is belangrik dat werkbare oplossings vir probleme gevind word. Die inwoners van Pretoria ly daaronder as hierdie probleme nie uit die weg geruim word nie. AfriForum sal aanhou om druk toe te pas op die metro om oplossings te bied. Ons sal ook hulp aanbied waar ons strukture het om probleme op te los en werkbare aksieplanne in werking te stel om te verseker dat inwoners die nodige dienste ontvang waarvoor hulle betaal,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

Word deel van die oplossing en sluit aan by AfriForum: SMS jou naam na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings