| | |

COVID-19-taakspan versprei kos aan 200 gesinne

Die COVID-19-taakspan – wat deur die burgerregteorganisasie AfriForum en die familieboernetwerk Saai gestig is – het vandag 300 kospakkies en 200 brode afgelewer by Tshwane North Outreach, ’n uitreikorganisasie in Wolmer, Pretoria. Die Vrouelandbou-unie (VLU) se Wolmer-tak het die taakspan ingelig oor die nood in dié omgewing. Tshwane North Outreach sal die pakkies aan 200 hulpbehoewende gesinne in die omgewing versprei. Sedert die afkondiging van die inperkingstyd het die taakspan in samewerking met ander organisasies meer as 600 ton kos aan 15 000 mense versprei.

Die taakspan versprei voedsel en noodsaaklike items aan behoeftige persone, gesinne en instansies soos kinderhuise, tehuise vir bejaardes en klinieke in gemeenskappe regoor die land, veral in die huidige moeilike omstandighede waarin verskeie gemeenskappe hulself bevind.

“Die doel van vandag se skenking is om die nood in die omgewing effens te verlig sodat gesinne darem ’n paar maaltye het om hul mae vol te maak. Dié projek skep hoop en AfriForum wil dit graag uitbou sodat ons meer kan doen, want die nood raak net al hoe groter weens die regering se irrasionele inperkingsmaatreëls. Ons moenie verwag dat die staat op sy eie ons in hierdie tyd gaan bystaan nie; AfriForum wil sy deel doen om te verhoed dat mense honger ly,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid.

“Organisasies soos die VLU in Wolmer speel ’n belangrike rol om organisasies soos Saai en AfriForum bewus te maak van nood in gemeenskappe sodat ons kan help waar ons kan. Dit is verblydend om te sien hoe gemeenskappe, ondernemings en organisasies die afgelope tyd saamwerk om die kwesbaarste mense te help,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Mense wat skenkings of finansiële bydraes wil maak, kan AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid by trauma@afriforum.co.za kontak.

Soortgelyke plasings