|

AfriForum se Langeberg-tak slaan nuwe rigting in

AfriForum se Langeberg-tak het Maandag ’n nuwe bestuur aangewys om verder op dié tak se suksesse te bou. Die nuutverkose bestuur bestaan uit ’n groep wat uitgebreide kennis en ervaring tot die tafel bring. Jakkie Burger is as voorsitter van die tak aangewys en Nico Nel as ondervoorsitter. Johan Wykerd sal voorts as tesourier optree.

“Ons besef daar rus ’n groot verantwoordelikheid op ons skouers om die dorp vir almal te verbeter. Ek is vol vertroue dat ons die mas gaan opkom en ’n verskil in die gemeenskap maak,” sê Burger.

Die Langeberg-tak het voorheen as die Robertson-tak bekend gestaan, maar met die reorganisering van sy bestuur het die gemeenskap ingestem om ’n naamsverandering te ondergaan. Dié besluit sluit aan by die AfriForum-tak se hernieude fokus op munisipale kwessies nie net in Robertson nie, maar ook in Ashton, Montagu, Bonnievale en McGregor. Die nuwe bestuur het reeds ooreengekom om hul fokus op die verbetering van die gebied se waterkwaliteit en rioolstelsels te plaas.

“Die nuwe span is gretig om voort te bou op die sukses van hul voorgangers en die Langeberg-tak tot nog hoër hoogtes te neem,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

Die Langeberg-tak doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak en ’n verskil in hierdie omgewing te maak. Kontak Erasmus by marthinus.erasmus@afriforum.co.za of 081 216 9602 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings