|

AfriForum en BrainTribe besoek Laerskool Muldersdrif vir leierskapsonwikkeling

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 26 Julie 2022 in samewerking met Manie Botha van BrainTribe die Laerskool Muldersdrif besoek om leiereienskapsontwikkeling aan te bied.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en hoop te skep in skole. Elke kind in ons land verdien dit om die nodige leiding te kry om hul leiereienskappe te ontwikkel, want ons kinders is immers die leiers van môre,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Ons land se jongmense staar uitdagende tye in die gesig. Om die regte leierskapsgereedskap in ’n kind se leierskapsmondering in te bou is nie net ’n noodsaaklikheid nie, maar ook ’n diepe verantwoordelikheid van elke instansie en organisasie wat met kinders werk. Iemand wat in die jeug belê, glo in die toekoms. Die leierskapsontwikkelingwerkswinkel is deel van die slypproses om ons land se kosbare diamant-kinders se potensiaal te ontgin. Van passie ontdek tot kommunikasie is elke oomblik vol genot en leer. Dankie aan Laerskool Muldersdrif en AfriForum wat toegewyd is om in ons jeug te belê en hulle op te bou,” sê Manie Botha, spreker en lewensafrigter van BrainTribe.

“Vandag se kinders is môre se leiers. Leierskap is nie net ’n verkose taak met ’n wapen as aanduiding van die verantwoordelikhede nie. Vir baie kinders is leierskap ’n natuurlike eienskap, terwyl ander baie onseker is daaroor. Dit is vir ons as die Laerskool Muldersdrif uiters belangrik om al ons leerders, veral die graad 6 en 7 leerders, bloot te stel aan leiersontwikkelingsgeleenthede. Met AfriForum en BrainTribe se besoek word die leerders bewus gemaak en aan toepaslike kennis en vaardighede blootgestel. Ook sien hulle dat verkillende situasies verskillende optrede vereis. Almal is een of ander tyd ’n leier, al is hulle nie noodwendig verkies of aangestel nie. Dit is eintlik ’n lewenslange proses. Baie dankie Afriforum en BrainTribe vir die ondersteuning. Ons is dankbaar vir die belegging in die land se toekoms,” sê Herman Byleveld, hoof van die Laerskool Muldersdrif.

Stuur ’n e-pos na tania.scheepers@afriforum.co.za as jou kind se skool by AfriForum en BrainTribe se leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings