AfriForum op pad na VN om internasionale kollig te plaas op diskriminasie en haatspraak teen minderhede in Suid-Afrika

Verteenwoordigers van die burgerregteorganisasie AfriForum sal op 27 November en 1 Desember onderskeidelik aan twee geleenthede van die Verenigde Nasies (VN) deelneem. Die organisasie wil graag hiermee verdere internasionale bewustheid skep oor die kommerwekkende vlakke van diskriminasie, rasgebaseerde wetgewing en haatspraak wat minderhede in Suid-Afrika teiken. Een van die dringende kwessies wat AfriForum onder die VN se aandag wil bring, is die Suid-Afrikaanse regering se raskriteria vir uitvoere in die landboubedryf.

“Die Suid-Afrikaanse regering het in 2022 geskitter in hul afwesigheid toe hulle spreukbeurt aangebreek het tydens die Verenigde Nasies se Forum oor Minderheidskwessies. AfriForum was egter gereed en voorbereid om te praat. Deur aksies soos hierdie skep AfriForum op die internasionale verhoog bewusmaking oor kwessies soos rassediskriminerende wetgewing asook aanhitsing tot geweld teen minderhede in Suid-Afrika. Die organisasie plaas ook die Suid-Afrikaanse regering se negatiewe, en selfs vyandige standpunte, stellings en beleid jeens minderhede op rekord,” sê Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum.

“AfriForum ontmoet altyd waardevolle kontakte en bondgenote by hierdie forums. AfriForum het ook oor die jare internasionaal ’n goeie reputasie en legitimiteit opgebou as ’n betroubare bron van inligting oor burgerregte-kwessies in Suid-Afrika, veral ten opsigte van minderhede. Benewens bewusmaking skep, sal hierdie 2023-aksies verder bydra tot daardie internasionale profiel,” sluit Van Zyl af.

AfriForum sal verdere besonderhede oor elke geleentheid gee op die dag waarop dit plaasvind.

Soortgelyke plasings