| |

AFRIFORUM-BUURTWAG IN HARRISMITH WERK VROEG IN DIE JAAR REEDS HARD OM GEMEENSKAP TE HELP

AfriForum se Harrismith-buurtwag was vanjaar reeds betrokke by verskeie voorvalle waar hulle ondersteuning gebied het aan die gemeenskap.

Die buurtwag was onder meer vroeër vandeesmaand betrokke by ’n toneel waar Vowestraat dringend gesluit moes word sodat ’n Netcare 911-helikopter daar kon land. Die helikopter moes ’n pasiënt na ’n hospitaal in Johannesburg oorplaas en die buurtwag het gehelp om die straat veilig te sluit.

Verder het die buurtwag vroeër vanjaar ’n verdagte vasgetrek wat na bewering koperkabels in Lindleystraat gesteel het. Die verdagte is toe aan die polisie oorhandig. Die buurtwag het ook vinnig gereageer om bystand te bied by verskeie motorongelukstonele.

Tydens nog ’n voorval het ’n 17-jarige meisie vermis geraak. Sy is die volgende oggend  omstreeks 02:00 teruggevind. “Die sukses is te danke aan goeie samewerking tussen die buurtwag, die polisie en sekuriteitsmaatskappye. Die meisie is ongedeerd terugbesorg aan haar ouers,” sê Jan-Hendrik van Heerden, voorsitter van AfriForum se Harrismith-buurtwag.

Die AfriForum-buurtwag het ook vir bykans twee maande die Harrismith Animal Shelter bygestaan deur water aan te ry nadat die plaaslike munisipaliteit versuim het om die pyplyn te herstel.

Chris Morgan, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland, moedig gemeenskapslede aan om by hierdie aktiewe buurtwag betrokke te raak en sodoende die gemeenskap te help. “Mense kan ’n positiewe verskil maak deur by ons strukture in te skakel. Veiligheid is een van ons belangrikste prioriteite en daarom wil ons die gemeenskap uitnooi om by ons buurtwag aan te sluit,” sluit Morgan af.

Maak ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap en sluit aan by jou AfriForum-buurtwag. SMS “Buurtwag” na 31481 (R1).

Soortgelyke plasings