Sakenetwerk-ontbyt groot sukses

AfriForum Sakenetwerk in samewerking met AfriForum se Wes-Kaap-kantoor het vanoggend ’n sakeontbyt by Nitida-wynlandgoed in Durbanville in die Kaap gehou.

Ongeveer 60 gaste het die geleentheid bygewoon en J.P. Smith, ’n DA-raadslid vir veiligheid in die Stad Kaapstad het as gasspreker opgetree.

Smith, wat na homself as federalis verwys, het hulle sekuriteit- en gebeurlikheidsplanne voorgelê wat hulle tans in Durbanville beplan. Volgens Smith is samewerking met AfriForum, om misdaad te bekamp, uiters belangrik. Die sekuriteitspan brei jaarliks uit en met beter tegnologie gaan hulle van krag tot krag. Beter tegnologie lei ook na meer arrestasies wat Durbanville veiliger maak.

Die DA in die Wes-Kaap het oor die afgelope drie jaar informele nedersettings en grondbesetters verwyder wat in oppervlak amper net so groot soos Bloemfontein is.

“Dit is belangrik om saam aan ’n positiewe omgewing te werk en mekaar op te bou. Maar dit is net so belangrik om nie te gaan lê nie, en alle insidente aan te meld sodat dit opgelos kan word,” sê Theresa Uys, raadsdame van korporatiewe dienste.

“Dit is wonderlik om te sien hoe besighede saamkom, saamstaan en planne wil maak om hulle omgewing te verbeter. Dit is lekker om te sien hoe ondernemings netwerk en verhoudings bou,” sê Sanderien van der Walt, AfriForum Sakenetwerk se bestuurder.

Volgens Tommy van Zyl, voorsitter van Kaapstad-Noord-tak is dit verblydend om te sien hoe goed dinge kan gaan wanneer mense saamstaan om hulle gemeenskap te verbeter en bevorder. Durbanville is ’n fantastiese voorbeeld van hierdie samewerkingsverhoudinge.

Om deel te word van AfriForum Sakenetwerk, besoek www.afriforumsakenetwerk.co.za en registreer jou onderneming gratis.

Soortgelyke plasings