|

AfriForum open moordklagte ná kind se dood

Die AfriForum-takke in Secunda en Leandra het verlede week klagtes van moord en strafbare manslag teen Mmela Mahlangu, munisipale bestuurder en Matimba Masia, hoof van tegniese dienste, van die Goven Mbeki-munisipaliteit, ingedien nadat ʼn 8-jarige dogtertjie doodgeskok is deur ʼn kragpaal naby haar ouerhuis in Leandra.

Charlene Jacobs is op 10 Augustus omstreeks 15:00 dood nadat sy geskok is toe sy teen ’n kragpaal geleun het. Kragdrade het uit ’n gat gesteek en aan die paal geraak.

Volgens Charlene se pa, Charlie, het die voorval plaasgevind toe sy buite saam met haar maatjies naby hul huis gespeel het. Hy het verduidelik dat sy moeg geword het en teen dié lewendige kragpaal geleun het.

Jacobs het aan Forum Nuus gesê dat hy ʼn dag ná sy dogtertjie se dood by die polisiekantore én munisipaliteit in Secunda weggewys is toe hy die voorval wou aanmeld.

AfriForum is verlede Maandag na die plaaslike polisie in Leandra om ʼn saak teen dié munisipale beamptes aanhangig te maak.

Volgens Hillel Coetzer, streekskoördineerder van Mpumalanga-Wes, het die stasiebevelvoerder glo aan Jacobs gesê dat hy sy verklaring mag aflê, maar slegs die inligting mag aanmeld wat die polisie as “belangrik” beskou.

AfriForum het die saak verder na die polisie se nasionale kantoor geneem asook onder die aandag van die waarnemende kluster-bevelvoerder in Secunda gebring waarna opdrag gegee is dat die organisasie en Jacobs bygestaan moet word om die klagtes in te dien.

Die munisipaliteit het ook eers na AfriForum se ingryping opgetree en die paal van die kragnetwerk ontkoppel.

“Weens die gebrek aan behoorlike dienslewering en instandhouding deur die munisipale bestuurder en hoof van tegniese dienste, het ʼn onskuldige kind haar lewe verloor. Hierdie optrede deur die betrokke persone is krimineel van aard en hulle moet tot verantwoording geroep word,” het Coetzer gesê.

Volgens ʼn onafhanklike deskundige wat AfriForum genader het, het onwettige elektrisiteitskoppelings aan lewendige elektrisiteitsdrade aan die paal geraak. Verder het die lamppaal ook geen aarddraad gehad nie.

Volgens Coetzer is ʼn soortgelyke saak in Standerton aangemeld, waar ʼn kind ernstig beseer is nadat hy geskok is deur ʼn oop krag boks. Hy het gesê AfriForum sal ook ondersoek instel teen die Lekwa-munisipaliteit oor dié voorval.

“AfriForum is in die proses om berading vir die Jacobs-familie te reël en bedank senior polisiebeamptes vir hul daadwerklike ingryping om Jacobs en AfriForum op grondvlak by te staan,” het Coetzer gesê.

Soortgelyke plasings