|

Kovsies wil Afrikaans uitwis: AfriForum, AfriForum Jeug & Solidariteit gereed om studente se taalregte te verdedig

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) is vasbeslote om Afrikaans as onderrigmedium uit te wis ondanks die onlangse uitspraak van ’n volbankregters in die hooggeregshof in Bloemfontein.

AfriForum en Solidariteit, met die steun van derde partye, het die UV hof toe gesleep oor sy planne om die universiteit se taalbeleid te wysig en vanaf 2017 onderrig in net Engels aan te bied.

Regter Ronald Hendricks het beslis dat die UV met sy besluit om van Afrikaans as onderrigmedium ontslae te raak, sy taalplig jeens alle studente versuim. Hy het hom sterk uitgespreek oor die universiteit se versuim om, ná meer as 20 jaar van demokrasie, ander inheemse tale tot onderrigtale op universiteitsvlak te ontwikkel.

Regters Eunice Mokgohloa en Abram Motimele (waarnemend) het met sy uitspraak saamgestem.

Die UV wil nou teen dié uitspraak appelleer en hom ook tot die Konstitusionele Hof wend nadat AfriForum en Solidariteit vandeesweek weer dringende hofstukke ingedien het dat die ou taalbeleid moet geld tot die UV se appèlprosesse afgehandel is.

Intussen het dit aan die lig gekom dat al hoe meer klasse wat oorspronklik in Afrikaans beskikbaar was, hangende hofprosesse al hoe meer net in Engels aangebied word. Studente word glo ook geïntimideer wat hierteen kapsie maak.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het in die lig van die UV se jongste planne gesê die regspan van AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit is gereed om die taalregte van Afrikaanse studente aan die UV te verdedig met enige regsaksie wat verder nodig mag wees.

Sy het gesê die hooggeregshof het in ʼn baie omvattende en duidelike uitspraak beklemtoon dat die universiteit ʼn plig het om meertalige onderrig aan te bied en dat dit boonop vir die instelling nodig en prakties uitvoerbaar is om voort te gaan met Afrikaanse onderrig. “Die uitspraak onderstreep ook dat dit in die gemeenskap se belang is dat studente eendag in hulle moedertaal moet kan diens lewer in hulle onderskeie beroepsvelde, en nie net in Engels nie.

“In ʼn tyd waar universiteite voor groot finansiële uitdagings staan en op verskeie platforms vertoë om meer befondsing rig, is dit tragies dat hulpbronne aangewend word in ʼn voortgesette stryd om ʼn skending van studente se nasionaal en internasionaal erkende taalregte te probeer regverdig.  Dit skep die indruk dat die universiteitsbestuur se stryd teen Afrikaans van soveel belang geraak het, dat dit teen enige koste deurgevoer sal word,” het Bailey gesê.

 

Volgens Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, is dit regtig hartseer dat die UV, ongeag die gemeenskap se belang, reg en aandrang op meertalige onderrig, voortgaan om sy belange eensydig op die gemeenskap te forseer. “Terwyl AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit fokus op die gemeenskaplike verpligting op universiteite om meertalige onderrig te ontwikkel, fokus die UV daarop om Afrikaans as onderrigtaal te beëindig. Dit is nie net teenstrydig met die universiteit se grondwetlike verpligtinge nie, maar ook teenstrydig met elke Afrikaanse student se belange wat meer gemaklik voel om onderrig te word in sy huistaal” het Van der Bijl gesê.

Daar word tans op die verdere direktiewe van die Konstitusionele Hof gewag om te weet wat die verdere regsproses gaan behels.  Die drie instellings se regspan is gereed om daarvolgens die proses voort te sit om die regte van die studente en voornemende studente te beskerm.  Intussen word ook vir ʼn dringende aansoek teen die implementering van die 2017-beleid voorberei.

Hendricks het in die appèluitspraak verlede maand tot die slotsom gekom dat die raad en senaat van die UV mislei is om tot ’n verkeerde besluit te kom om die UV se taalbeleid te verander. Hulle is laat glo dat daar met die aanvaarding van ’n enkel Engelstalige beleid nie grondwetlike beginsels ter sprake was nie, terwyl daar wel was.

Die UV het vroeër in sy argumente voor die hof by monde van adv. Jeremy Gauntlett erken dat die instelling se besluit om ’n nuwe taalbeleid in werking te stel wat Afrikaans uitrangeer, nie op finansiële gronde geneem is nie, maar omdat Afrikaans volgens hulle tot segregasie lei.

Bailey het hierop gesê dat geen reg bevorder kan word deur ’n ander reg weg te neem nie. Die Grondwet maak voorsiening vir moedertaalonderrig waar prakties moontlik en doenlik. “Die UV bied parallelmedium-onderrig aan en geen student word van ’n studiegeleentheid ontneem omdat ’n ander student se reg tot Afrikaanse moedertaalonderrig gerespekteer word nie.”

 

Soortgelyke plasings