AfriForum plaas druk op minister van Vervoer oor stukkende lisensie-drukmasjien

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n brief aan Sindisiwe Chikunga, die minister van Vervoer, gestuur waarin die organisasie duidelikheid van haar departement eis oor die stukkende lisensie-drukmasjien. Op 3 Mei is berig dat Suid-Afrika se enigste lisensie-drukmasjien weer gebreek het – minder as ’n jaar sedert dit die laaste keer gebeur het. Die woordvoerder van die nasionale Departement van Vervoer het gesê dat bestuurslisensiekaarte binne twee tot drie weke weer gedruk sal word. Dit is egter meer as ’n maand later en die departement het nog geen terugvoer gegee oor of die masjien reggemaak is nie.

AfriForum se meer as 310 000 lede, sowel as die breër publiek, verdien antwoorde en duidelikheid wanneer dit kom by hierdie kritieke diens wat die regering veronderstel is om sonder komplikasies of ernstige vertragings te lewer.

AfriForum het die minister van Vervoer versoek om te bevestig of die lisensie-drukmasjien reggemaak is of nie en indien dit steeds buite werking is, om AfriForum van ’n tydraamwerk te voorsien waarbinne dit herstel sal word.

In die konteks van hierdie regeringsmislukkings en die daaropvolgende agterstande sal AfriForum op 7 en 8 Augustus in die Hooggeregshof in Pretoria wees om onder meer ’n verklarende bevel te eis. In hierdie bevel vra AfriForum dat die vyfjaar geldigheidstydperk van bestuurslisensies ongrondwetlik verklaar word en dat alle boetes wat uitgereik word vir vervalde lisensies, ongrondwetlik is.

“Die Suid-Afrikaanse regering is nie in staat om basiese dienste soos lisensiehernuwing effektief te lewer nie. Daarbenewens blyk dit dat die regering ook nie oor die vermoë of die begeerte beskik om die publiek op hoogte te hou van wanneer ’n probleem, wat deur die regering veroorsaak is, opgelos gaan word nie. Dit is presies hoekom AfriForum bestaan – om aan die publiek se kant te wees wanneer die regering nie is nie. Maak jou stem dik saam met ons by www.lisensiesvervalnie.co.za,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Soortgelyke plasings