AfriForum plant 3 000 bome en sluit 2018-boomplantprojek in Knysna af


AfriForum het vanjaar meer as 3 000 bome tydens sy jaarlikse boomplantprojek in September geplant.
Volgens Chris Boshoff, AfriForum se koördineerder vir omgewingsake, is dié inisiatief deel van ’n groter poging om ’n gesonde, volhoubare omgewing vir nageslagte te verseker. Hoewel mense oor Suid-Afrika heen boomplantdag op 1 September vier, wy AfriForum-takke en duisende vrywilligers die hele Septembermaand aan die plant van bome.

“Deur inheemse bome te plant, is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar nie, maar wys ons ook dat ons toekomshoop het. Om Suid-Afrika te laat floreer, moet ons almal ons deel doen en aanhou bou – tot voordeel van almal in die land,” sê Boshoff.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n algemene as skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2018 is die opregte geelhout (Podocarpus latifolius), en die skaars boom die grootwitgat (Boscia albitrunca). AfriForum moedig lede egter steeds aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewings aard.
As deel van die Knysna-projekafsluiting het AfriForum en die Gaan Groen Knysna-groep op 27 September 2018 vyftig bome in die Pledge-natuurreservaat in Knysna geplant. AfriForum het ook ’n 2 500 liter-watertenk aan dié reservaat geskenk omdat hulle gewoonlik reënwater vir natleidoeleindes opgegaar het. Dié infrastruktuur is egter tydens die 2017-brande verwoes.
AfriForum, die Gaan Groen Knysna-groep en die Brenton-belastingbetalersvereniging behartig ook saam die verwydering van uitheemse bome in die Knysna-omgewing.

“Ons het nie net inheemse bome geplant nie, maar ook meer as 800 fynbosplante in die Brenton-omgewing om die endemiese fynbosspesies te rehabiliteer en die Brenton-bloutjie te beskerm. Dié bedreigde skoenlapper leef in ’n simbiotiese verhouding met ’n spesifieke fynbosspesie, Indigofera erecta,” verduidelik Boshoff.

AfriForum wil graag die Wildflower-groothandel- en Norgarivier-kwekery vir hul aandeel bedank.
SMS die naam van jou dorp na 45354 (R1) om by AfriForum aan te sluit.

Soortgelyke plasings