AfriForum plant vir wêreldhabitatdag gedurende September


Die burgerregte-organisasie AfriForum het wêreldhabitatdag, wat vanjaar op 2 Oktober plaasgevind het, tydens die hele Septembermaand gevier deur altesaam 1 681 bome met die hulp van hul takstrukture regoor Suid-Afrika as deel van AfriForum se 2017-boomplantmaandprojek aan te plant.
Die projek vind jaarliks plaas wanneer elkeen van AfriForum se meer as 120 takke inheemse bome by verskeie skole, in parke, voëlparke en natuurreservate, asook in dorpe, stede en by kerke aanplant.
Die algemene boom wat vir 2017 se boomplantdag en -maand geïdentifiseer is, is die blinkblaar-wag-’n-bietjie. Die skaars boom is die ebbeboom. Dit is egter nie nodig om hierdie spesifieke bome te plant nie en mense kan enige boom plant wat inheems tot hul spesifieke gebied is. AfriForum het die 1 681 bome soos volg in provinsies regoor die land geplant:
Gauteng 365
Noordwes 400
Limpopo 50
Mpumalanga 165
Vrystaat 38
KwaZulu-Natal 60
Noord-Kaap 10
Oos-Kaap 40
Wes-Kaap 553
Totaal 1 681

“Gemeenskappe regoor die land het ’n groot groen bydrae gelewer en self hul dorpe verfraai en die habitat van honderde spesies hervestig of uitgebrei. Vanjaar het ons as bykomende deel van dié projek die gemeenskap van Knysna ondersteun toe ons en ander organisasies 20 bome geplant het in ’n poging om die gebied ná die verwoestende brande vroeër vanjaar te rehabiliteer,” sê Marcus Pawson, AfriForum se hoof van omgewingsake.

AfriForum beplan ook verder om vir die volgende paar jaar op ’n berekende, gestruktureerde en deurlopende wyse bome in Knysna te plant. Die organisasie wil sover moontlik waterslim bome aanplant omdat die Wes-Kaap steeds onder ’n droogte gebuk gaan.
AfriForum en sy lede beplan ook om op hierdie groen inisiatief voort te bou deur ’n volhoubare woudskeppingsprojek van stapel te stuur. Gemeenskappe sal versoek word om bome te borg of geld aan die Gaan Groen Knysna-projek te skenk. Volg dié skakel om ’n skenking hiervoor te maak: https://afriforum.co.za/gaan-groen-knysna/.

Soortgelyke plasings