|

AfriForum: Privaatsektor-stelsels sal kan help met munisipale invorderings en doeltreffendheid

AfriForum het hom vandag weereens uitgespreek oor munisipaliteite se onvermoë om hulself behoorlik te bestuur en meen dat die tyd lankal ryp is vir die privaatsektor om hul stelsels en prosesse aan munisipaliteite beskikbaar te stel om verdere agteruitgang te verhoed. Dít volg ná besprekings vandeesweek tydens die sitting van die parlementêre portefeuljekomitee oor water en sanitasie, waar skokkende syfers van munisipaliteite se verbruikerskuld en die miljarde rande wat nodig is om watersuiweringswerke op te gradeer aan die lig gekom het.

Tydens hierdie sitting het dr. Sean Phillips, direkteur-generaal van Water en Sanitasie, gesê dat munisipaliteite landwyd R100 miljard gaan moet opdok om opgraderings aan watersuiweringswerke aan te bring – miljarde waaroor munisipaliteite nie beskik nie.

Velenkosini Hlabisa, minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, het ook hierdie week bekendgemaak dat staatsdepartemente se munisipale skuld landwyd R21 miljard beloop. Hy meen dat munisipaliteite 10% van hierdie invorderings aan instandhouding- en herstelwerk moet spandeer . Volgens AfriForum is dit ’n tree in die regte rigting mits munisipaliteite vertrou kon word om hul finansies behoorlik te bestuur.

Volgens Marais de Vaal,  AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake, is munisipaliteite bloot nie in staat om hulself uit hul huidige krisis te bestuur nie. “Munisipaliteite is veronderstel om self hulle finansies te bestuur, maar jarelange korrupsie en wanbesteding het daartoe gelei dat munisipaliteite nie meer in staat is om hul eie finansies te bestuur nie. Burgerlike organisasies en die privaatsektor moet ’n oorsigrol te speel om te verseker dat fondse nie wanbestee word nie en om munisipale prosesse meer doeltreffend te maak.”

De Vaal meen dat die fondse vir opgraderings-, instandhouding- en herstelwerk nie direk aan munisipaliteite toevertrou moet word nie aangesien die risiko te groot is dat hierdie fondse in munisipale amptenare se sakke sal verdwyn. “Dit is ook ongelukkig so dat munisipaliteite nie eens die regte stelsels in plek het om uitstaande skuld in te vorder nie, terwyl toelaes aan munisipaliteite toegeken en dan wanbestee word.”

“Die nuutste inligting oor die Rooiwal-afvalwatersuiweringsaanleg, waarvan die herstel en opgradering nou na verwagting byna dubbel soveel gaan kos as wat aanvanklik daarvoor begroot is, is die gevolg van wanpraktyke, korrupsie en vertragings. Dit bevestig AfriForum se standpunt opnuut: die privaatsektor se stelsels moet van die begin af implementeer word om doeltreffendheid te verseker.”

Soortgelyke plasings