|

AfriForum se Heilbron-tak plant bome by Hoërskool Heilbron

Die AfriForum-tak in Heilbron het, vir boomplantmaand, 30 witstinkhoutbome (Celtis africana) by Hoërskool Heilbron geplant. Dit kom nadat die skool aangedui het dat daar ’n behoefte aan bome is, en die tak geweet het dat die bome goed versorg sal word.

Hierdie inisiatief was ook ’n opvoedingstaak, aangesien die leerders aktief aan die boomplantery deelgeneem het. Die leerders is van kompos geleer, wat alles by die grond gevoeg moet word, hoe diep die gat moet wees, en dat die bome gereeld natgelei moet word. Die nut van bome en dat dit goed is om bome te plant is ook aan die leerders uitgewys terwyl hulle die dag geniet het. 

“Dit was heerlik om die leerders meer van bome te vertel, hoekom ons bome moet plant en interessante feite oor bome met hulle te deel, byvoorbeeld dat ’n rugbyveld vol bome 18 mense van suurstof vir ’n hele jaar kan voorsien,” sê Gerrie Muller, takvoorsitter van die AfriForum-tak in Heilbron.

“Ek het vir die leerders ook meer van hierdie inheemse witstinkhoutbome, wat ons geplant het, vertel. Dit was vir hulle baie spesiaal om self die bome te plant en ek glo dat hulle dit goed sal versorg,” het Muller afgesluit.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier, is dit baie spesiaal dat die boomplantery juis by dié skool plaasgevind het. “Leerders moet bewus gemaak word van die nut van bome. Die feit dat hulle dit so baie geniet het, wys dat die leerders ’n behoefte daaraan het om op te bou,” sluit Pretorius af.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Heilbron” na 45344 (R1) en raak betrokke.

Soortgelyke plasings