|

AfriForum se Stellaland-buurtwagte beveilig gemeenskappe

Die AfriForum-buurtwagte in Christiana, Delareyville en Vryburg het gedurende Augustus en vroeg in September hard gewerk om sigbaarheid in dié onderskeie dorpe te verhoog.

Hierdie drie dorpe se buurtwagte het gedurende Augustus deurlopend die betrokke areas gepatrolleer om sigbaarheid te verhoog en tot ’n veiliger omgewing in hul gemeenskappe by te dra.

Die AfriForum-buurtwag in Vryburg se brandspan het met twee verskillende voorvalle hulp, tydens ’n brand, aan die brandweer verleen. Dié brande is suksesvol geblus. Die buurtwag is ook na ’n misdaadtoneel ontbied en het die vermeende misdadiger suksesvol vasgetrek. Die AfriForum-buurtwag in Christiana het aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) hulp verleen op ’n toneel waar ’n man beroof is. Die buurtwag het verder patrollering in sekere areas van die dorp verhoog om weereens meer sigbaar te wees en misdaad te bekamp.

“AfriForum se Stellaland-buurtwagte sal voortdurend projekte aanpak en areas gereeld patrolleer om misdaad in samewerking met die SAPD en ander veiligheidsinstansies hok te slaan om sodoende veiligheid te verbeter. Dit is van uiterste belang dat gemeenskappe en organisasies hande vat om misdaad te bekamp. Die verhoogde sigbaarheid in dorpe speel, in gemeenskapsveiligheid, ’n noodsaaklike rol en daarom is dit belangrik dat patrollering soos dié moet plaasvind,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

Die Stellaland-buurtwagte wil graag elke patrolleerder asook elke ander rolspeler wat aan hierdie inisiatief deelgeneem het vir hul opofferings bedank.

Raak vandag nog by AfriForum se buurtwagte betrokke en help om jóú omgewing te beveilig: SMS “Buurtwag” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings