| |

AfriForum reik dringende hofaansoek uit om oplossing vir repatriasieprobleme te vind

AfriForum het pas dringende hofstukke uitgereik om oplossings te probeer kry vir die vele probleme wat Suid-Afrikaanse burgers wat tans in die buiteland gestrand is, ondervind. Dit sluit onder meer in dat hulle steeds verplig is om 14 dae in kwarantyn in ’n staatsfasiliteit deur te bring, terwyl die meeste die vermoë het en sou verkies om self te isoleer in dié tyd. Verder het hulle ook probleme in sommige fasiliteite met geriewe en diens, maar daar is geen formele kanaal waardeur die kwessies vinnig en effektief aangepak kan word nie. Langsame repatriasieprosesse, gebrekkige kommunikasie en laat toetsing vir die virus skep ook groot spanning by hulle.

Volgens Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, is die hofbevel van gister teen gedwonge opname in die staat se kwarantynfasiliteite net op mense van toepassing wat sedert die aanvang van die COVID-19-inperking nog heeltyd in die land was en dan positief vir die virus toets. Dit raak nie die kwarantynvereistes wat op mense van toepassing is wat uit die buiteland na Suid-Afrika terugkeer nie, daarom is hierdie aansoek noodsaaklik.

Sue-Ann de Wet, wat AfriForum se kontak met Suid-Afrikaners in die buiteland bestuur, noem dat AfriForum vanoggend andermaal genoodsaak was om dringend regshulp in te roep vir ’n gerepatrieerde Suid-Afrikaner wat COVID-onverwante mediese hulp benodig nadat die kwarantynfasiliteit waar hy tans is, nie op sy versoeke reageer het nie.

“Hierdie probleme duik voortdurend op en sou voorkom kon word as mense met hulle aankoms in die land die keuse kon hê om self te isoleer vir 14 dae.”

Nog ’n kwessie wat in die stukke aangespreek word, is die nuwe regulasies wat vir die moontlikheid voorsiening maak dat mense selfs verplig kan word om vir die kwarantyn te betaal.

“Dit is absurd dat mense teen hulle wil in kwarantynfasiliteite gedwing word en dan nog daarvoor moet betaal. Vele verkeer reeds in finansiële nood ná hulle weke moes wag op repatriasiegeleenthede en sal beslis nie nog onvoorsiene uitgawes vir ’n onnodige diens kan bybring terwyl veilige opsies by hulle eie tuistes beskikbaar is nie,” voeg Bailey by.

Die Ministers van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake; Internasionale Betrekkinge en Samewerking; en Gesondheid; asook die direkteur-generaal van Gesondheid word as respondente in die saak gelys.

Soortgelyke plasings