|

AfriForum se teenboelieveldtogspan en AfriForumTV besoek Laerskool Delville

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het gister (11 Oktober 2023) besoek afgelê by Laerskool Delville in Germiston. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind en dus boeliebestand te wees. Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Boelie-bewusmaking is van kritieke belang aangesien dit bewustheid rakende hierdie ernstige probleem skep. Deur bewusmaking te skep, kan almal beter toegerus word om boeliegedrag te herken en te voorkom. Dit bevorder gemeenskapsverantwoordelikheid om ’n veilige en ondersteunende omgewing vir almal te skep,” sê Liezel Pienaar, onderhoof van Laerskool Delville.

Die gratis digitale platform met hope vermaak vir Afrikaanse kinders, AfriKinders, het ook die dag by Laerskool Delville bygewoon. AfriKinders se programme is opvoedkundig van aard, ondersteun Christelike waardes en bied verskeie opwindende programme vol avontuur.

Sonder jou is hierdie inisiatief nie moontlik nie. Sluit aan by AfriForum en wees deel daarvan om ’n toekoms te bou waar jou kinders veilige Afrikaanse inhoud kan geniet.

Besoek www.teenboelie.co.za vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog, en maak ’n draai by www.afrikinders.co.za of laai die AfriKinders-toepassing af vir ure se vermaak in Afrikaans.

Soortgelyke plasings