|

AfriForum sal Gautengse skole met plasingsprobleme bystaan

AfriForum neem kennis daarvan dat die Gautengse Onderwysdepartement andermaal onder groot druk verkeer om kinders wat vir plasing in graad een en agt in 2024 in dié provinsie aansoek gedoen het, te akkommodeer.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is dit ’n jaarlikse dilemma, wat daaraan toegeskryf kan word dat die departement nie in staat is om voldoende skole te voorsien om aan die groeiende aanvraag in die provinsie te voldoen nie. “Wat dit nog meer kommerwekkend maak, is dat die provinsie fondse wat deur die jare toegeken is om meer skole te bou, selde spandeer het, wat net nog ’n aanduiding van die departement se wanbestuur is,” noem sy.

’n Verdere uitdaging is die wanfunksionele skole in Gauteng wat veroorsaak dat ouers nie noodwendig hulle kinders in die skole naaste aan hulle wil plaas nie, maar verstaanbaar probeer om plek vir die kinders in funksionele skole te kry. “Wanneer dit nie slaag nie, spoor dit nie die departement aan om aanspreeklik te wees en skole reg te ruk nie, maar word allerlei populistiese uitlatings gemaak, soos om te beweer dat Afrikaanse enkelmediumskole die oorsaak van die probleem is,” voeg Bailey by.

AfriForum het verneem van Afrikaanse skole wat onder groot druk is om meer klasse te akkommodeer, waarvoor hulle infrastruktuur nie voorsiening maak nie. Die opsie om meer kinders in ’n klas in te druk, bedreig nie alleen die kinders se fisiese veiligheid nie, maar kompromitteer ook die gehalte van die onderrig wat aangebied word.

Nog ’n opsie, naamlik om enkelmedium Afrikaanse skole wat reeds vol is met Afrikaanse leerders te dwing om vir Engelse leerders met parallel- of dubbelmedium onderrig plek te maak, sal beteken dat Afrikaanse leerders moet plek afstaan aan Engelse leerders, wat die dilemma net gaan vergroot. Verder is daar plaaslik en internasionaal legio bewyse dat hierdie skole op die ou einde weer enkelmediumskole sal word, maar dan in die dominante taal, wat in dié geval Engels is. Omskakeling na parallel- of enkelmedium onderrig is fataal vir Afrikaanse moedertaalonderrig.

AfriForum sal graag Afrikaanse skole help wat plasingsprobleme van dié aard ondervind. Beheerliggame word aangeraai om eers die knelpunte met hulle kringbestuurder en ander gemagtigde amptenare van die departement direk op te neem en rekord van die gesprekke te hou. Indien dit nie die gewenste uitwerking het nie, sal AfriForum graag help. Die beheerliggame kan dan aan AfriForum ’n mandaat gee om namens hulle regstappe te neem.

Enige navrae in die verband kan gestuur word aan onderwys@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings