| | |

AFRIFORUM NADER HOF DRINGEND OOR IVERMEKTIEN

Die burgerregteorganisasie AfriForum het ’n dringende hofaansoek teen die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (SAHPRA) en Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, gebring om te verseker dat ivermektien wat ontwikkel is vir menslike gebruik beskikbaar kan wees sodat dokters dit vir die behandeling van COVID-19 kan voorskryf. SAHPRA het tot dusver nagelaat om aansoeke van mediese dokters goed te keur – wat ingevolge artikel 21 van die Wet op die Beheer van Medisyne en Verwante Middels gebring is – om ivermektien te laat goedkeur vir die behandeling van COVID-19-pasiënte.

In die hofaansoek word (onder meer) versoek:

  • dat SAHPRA se versuim om die artikel 21-aansoeke goed te keur tersyde gestel word en dat die hof die artikel 21-aansoeke goedkeur;
  • ’n verklarende bevel dat ivermektien medisyne is wat veilig is vir mense om te gebruik mits dit behoorlik en beheersd toegedien word onder die toesig van ’n mediese praktisyn; en
  • ’n verklarende bevel dat gekwalifiseerde mediese dokters en aptekers volgens artikel 14(4) van die Wet op die Beheer van Medisyne en Verwante Middels geregtig is daarop om medisyne saam te stel volgens die voorskrif van ’n mediese dokter, wat ivermektien insluit.

“Ons verkeer in buitengewone omstandighede. Mense sterf daagliks en gesondheidspraktisyns swoeg. Elke dag kos lewens. Onder sulke toestande moet die potensiële risiko’s en voordele van ’n besluit met dringendheid opgeweeg word en daar moet met beslistheid opgetree word. Ivermektien is op die Wêreldgesondheidsorganisasie se lys van noodsaaklike medisyne en dit is bewys dat dit veilig is – ook vir kinders. Studies wat in onder meer die VSA, Argentinië, Indië, Egipte en Spanje gedoen is, toon almal dat ivermektien potensiaal toon om COVID-19 te behandel en sterftes te verminder. Die balans tussen risiko en voordeel is duidelik; daarom doen ons nou dié stappe om die beskikbaarheid daarvan te verseker,” sê Barend Uys, AfriForum se hoof van Navorsing.

“Boere is tans die grootste verbruikers van veemedisyne wat ivermektien bevat. Al meer mense gebruik egter dié produkte, wat veroorsaak dat daar uitdagings vir boere ontstaan in terme van beskikbaarheid en bekostigbaarheid. Saai het ’n direkte belang by die welstand van familieboere, hul gesinne en hul werkers. Ons ondersteun daarom dié poging om die beskikbaarheid van ivermektien wat geskik is vir menslike gebruik dringend te verseker,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

Soortgelyke plasings