AfriForum se 2018-teenboelieveldtog skop af by Laerskool Krugersdorp-Noord


AfriForum het Laerskool Krugersdorp-Noord einde Januarie en begin Februarie besoek – die eerste skool wat deel vorm van dié burgerregtewaghond se teenboelieveldtog vir 2018.
Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders, onderwysers en ouers in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan,” sê Leandie Lombaard, koördineerder van AfriForum se leierskapsontwikkeling in skole.
Leerders is sommer op die eerste dag tydens saalopening ingelig oor wat ’n boelie werklik is en aan Matteus bekend gestel, die kenteken van die veldtog. Daar is aan die kinders verduidelik dat Matteus die wapenrusting dra en dat daar ook in Matteus 7:12 staan: “Behandel ander soos jy graag behandel wil word.”

Op die tweede dag van die boeliebewusmakingsweek kon leerders snaakse skoene en kouse aantrek om die skoene van vrede van die wapenrusting uit te beeld. Op dag drie kon die leerders kleurvolle hoede aantrek wat die helm van verlossing van die wapenrusting uitbeeld. Op dag vier het die leerders snaakse gordels aangetrek wat die waarheid as gordel uitbeeld. Op die laaste dag het elke leerder ’n boeliebestande Matteus-knopie ontvang wat hulle met trots kan dra.
Ouers het ook die geleentheid gehad om ’n aanbieding by te woon wat gehandel het oor die regte wat kinders in skole het en hoe kinders deur die Grondwet beskerm word indien die regte stappe geneem word. AfriForum sal later vanjaar ’n teenboeliegids vrystel wat beoog om volledige raad aan ouers, onderwysers en leerders te gee.

“Noordskool is ’n waardegedrewe Afrikaanse skool wat na die positiewe streef. Ons visie is dat elke leerder tot sy/haar beste potensiaal ontwikkel en ons missie is om ’n bevorderlike en veilige leeromgewing te skep waarin leerders en onderwysers in ’n Christelike, Afrikaanse raamwerk tot hul volle potensiaal kan ontwikkel,” sê Anita Miller, departementshoof oor die dogters van Laerskool Krugersdorp-Noord.
“Die boeliebestande Matteus-knopie wat elke leerder van Noordskool aan die einde van die boeliebewusmakingsweek ontvang het, vorm deel van ons skool se waardegedrewe stelsel wat op positiewe gedrag fokus. Elke leerder streef daarna om geen negatiewe inskrywings op die waardestelsel te ontvang nie. Aan die einde van elke siklus sal leerders wat kwalifiseer (wat dus geen negatiewe inskrywings het nie) ’n trotse Norie-knopie ontvang wat hy/sy vir die volgende siklus mag dra. Die teenboelieknopie loop hand aan hand met hierdie stelsel, waar ons enige boelie-oortredings sal gebruik om te bepaal of hulle die boeliebestande knopie sal hou of verloor. Leerders wat geen inskrywings vir die jaar ontvang het nie, kry dan ’n lapelwapen genaamd SUPERAREND 2018. Leerders kan ook aansoek doen of werk om negatiewe inskrywings te kanselleer,” sê Quintin Botha, departementshoof oor die seuns by Laerskool Krugersdorp-Noord.

Stuur ’n e-pos na boelie@afriforum.co.za as jou kind se skool by hierdie veldtog betrokke wil raak.
Gaan na https://www.youtube.com/watch?v=S1lld_ptiP4&t=5s om na ʼn bewusmakingsvideo van dié veldtog te kyk.

Soortgelyke plasings