Bulldozer, mynbou
|

AfriForum bekommerd oor uiters gebrekkige omgewingsimpakstudie vir myn langs Rietvlei-natuurreservaat  

Die burgerregteorganisasie AfriForum is bekommerd oor die uiters gebrekkige omgewingsimpakstudie wat ’n aansoek vir omgewingsmagtiging vir die myn van steenkool by ’n bestaande kleimyn, wat aan die Rietvlei-natuurreservaat in Pretoria grens, ondersteun.

Die kleimyn se bestaande mynreg geld slegs ten opsigte van klei. Die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie het egter vroeër vanjaar die myn aangemaan om ’n terugwerkende aansoek vir omgewingsmagtiging in te dien nadat dit aan die lig gekom het dat steenkoolreserwes wat gedurende die kleimyn se normale bedrywighede ontbloot is, sonder die nodige magtiging gemyn word. Hierdie aansoek is aan ’n basiese impakbepalingsproses onderworpe en die Konsep Basiese Impakbepalingsverslag is tans vir openbare kommentaar beskikbaar.

Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake, sê AfriForum is bekommerd oor die uiters gebrekkige Konsep Basiese Impakbepalingsverslag wat deur die omgewingsimpakbepalingspraktisyn saamgestel is. “Die omgewingsimpakbepalingspraktisyn het ’n wetlike en professionele verpligting om feitelik korrekte inligting weer te gee. Die Konsep Basiese Impakbepalingsverslag is egter deurspek van teenstrydighede en dit wil voorkom asof gedeeltes van die teks sonder enige aanpassing uit ander verslae gekopieer is. Indien dit werklik die geval is, is dit plagiaat en bedrog,” sê De Vaal.

Enkele voorbeelde hiervan wat uitgelig kan word sluit in:

  • Op een plek word daar gesê aansoek word gedoen vir omgewingsmagtiging en ’n watergebruikslisensie, terwyl daar op ’n ander van ’n afvalbestuurslisensie gepraat word. 
  • Op een plek word daar gesê daar is vyf jaar se steenkoolreserwes, terwyl daar op ’n ander gesê word daar gaan vir 30 jaar gemyn word.
  • Op een plek word dit duidelik gestel dat die myn reeds operasioneel is en dus geen konstruksie gaan plaasvind nie, terwyl die omgewingsimpak gedurende die konstruksiefase pertinent op ’n ander bespreek word.
  • Daar word na provinsiale wetgewing van die Noord-Kaap verwys.
  • Daar word na aktiwiteite verwys wat stroomaf van die Marico Bosveld-dam en Molatedidam in die Maricorivier plaasvind.
  • Wesenlike faktore wat in ag geneem moet word, soos die kumulatiewe impak van mynbou in die omgewing, word slegs oorsigtelik bespreek sonder enige verdere analise.

De Vaal sê verder dit is ’n kommerwekkende tendens wat in al hoe meer aansoeke vir omgewingsmagtiging raakgesien word. Die gevaar is dat die bevoegde owerheid se besluit om magtiging toe te staan al dan nie op ongegronde feite gebaseer sal word as die publiek nie sulke gebreke betyds raaksien en beswaar daarteen maak nie.

AfriForum het reeds as ’n belanghebbende en geaffekteerde party geregistreer om deurgaans ingelig te bly oor die aansoek en daardeur seker te maak dat die publiek se besware op die korrekte feite gebaseer word. “Die gerugte oor ’n beplande steenkoolmyn teenaan die Rietvlei-’natuurreservaat wat onlangs op sosiale media die rondte gedoen het, stook bloot gemoedere op en dit is nie behulpsaam om hierdie kwessie objektief en rasioneel te beoordeel nie,” sluit De Vaal af.

AfriForum moedig die publiek aan om betrokke te raak en om ook as belanghebbende en geaffekteerde partye te registreer om hul besware te lug. Toegang tot die Konsep Basiese Impakbepalingsverslag kan op die omgewingsimpakbepalingspraktisyn se webtuiste verkry word.

’n Openbaredeelnamevergadering vind Vrydag 8 September om 11:00 by die Pretoria Sailing Club by Rietvleidam plaas.

Die sluitingsdatum is 26 September vir die publiek om kommentaar te lewer.

Soortgelyke plasings