|

Regering stel syfers oor water- en rioolbestuur bekend: Groter waterprobleme Suid-Afrika se voorland

Die uitslae van die Departement van Water en Sanitasie (DWS) se bloudruppelverslag, groendruppelvorderingsverslag en geen waterverslag wat vandag bekendgemaak is, beklemtoon die probleme met munisipaliteite se bestuur van drink- en rioolwater.  AfriForum spreek reeds vir etlike jare kommer hieroor uit – hierdie kommer is weereens bevestig in dié organisasie se onlangse onafhanklike blou-en-groendruppelverslag.

AfriForum stel sedert 2013 jaarliks ’n blou-en-groendruppelverslag saam nadat die DWS opgehou het om hierdie verslag saam te stel. Sedert 2013 versoek AfriForum elke jaar dat die DWS weer hierdie tipe verslae saamstel – hierdie verslag is die derde van sy soort wat in die laaste twee jaar deur die DWS bekendgestel word. Die nuutste verslag is bekendgestel namate druk op die regering toegeneem het as gevolg van ’n toename in cholera-gevalle in Suid-Afrika en die algemene verval van munisipale dienslewering.  

Die bloudruppelverslag se resultate toon die volgende:

  • 277 van die land se 985 watervoorsieningstelsels (WVS’e) is in ’n kritieke toestand, 184 WVS’e is in die medium-risiko kategorie en 122 WVS’e is in die hoë-risiko kategorie.
  • Die WVS’e wat oor die algemeen die beste gevaar het is in die Wes-Kaap, Gauteng en KwaZulu-Natal. Daarteenoor kom die WVS’e wat in ’n kritieke toestand is, in die Vrystaat, Oos-Kaap, Limpopo, Mpumalanga en Noord-Kaap voor.
  • Die versuim om kontrakteurs, laboratoriums en diensverskaffers te betaal is ’n algemene probleem en lei daartoe dat dienste nie gelewer word nie, vertraag word of in geheel gestaak word.
  • Kommerwekkende sub-standaard kwaliteit van drinkwater aan die publiek – op ’n nasionale vlak is daar bevind dat 46% van WVS’e se drinkwater nie aan mikrobiologiese standaarde en 44% s’n nie aan chemiese standaarde vir veilige menslike gebruik voldoen nie.
  • Die meerderheid munisipaliteite (57%) stel nie watergebruikers in kennis as die kwaliteit van drinkwater gekompromitteer is of nie gemoniteer word nie – dit lei tot kwynende vertroue aan die verbruiker se kant oor die kwaliteit van die drinkwater in hul krane.
  • Talle WVS’e is byna op die rand van hul kapasiteit.
  • Baie munisipaliteite het nie wateronttrekkingsmagtiging in plek nie, meet nie hul onttrekkingsvolumes nie of oorskry hul toegelate onttrekkingskwota. Die gebrek aan wateronttrekkingsbestuur het ’n beduidende impak op waterhulpbronbeplanning en bewaring vir die land in geheel.

“Hierdie skets ’n uiters kommerwekkende prentjie veral omdat dit duidelik is dat munisipaliteite onbevoeg is en nie die vermoë het om basiese dienste soos skoon drinkwater te lewer nie. Wat nog meer kommerwekkend is, is dat munisipaliteite nie hul inwoners in kennis stel wanneer waterkwaliteit in gedrang is nie en dit kan lewensgevaarlik wees,” sê Lambert de Klerk, bestuurder vir Omgewingsake by AfriForum.

Die groendruppelvorderingsverslag toon die volgende:

  • 8% van rioolafvalwaterbehandelingswerke (RAWBW’e) is in die lae-risiko kategorie, 24% in die medium-risiko kategorie, 34% in die hoë-risiko kategorie en 34% in die kritieke-risiko kategorie.
  • Die munisipale risikoprofiel is as volg: 9% van RAWBW’e is in die lae-risiko kategorie, 25% in die medium-risiko kategorie, 34% in die hoë-risiko kategorie en 32% in die kritieke-risiko kategorie.
  • Dus is 67,6% van RAWBW’e in die hoë- en kritieke-risiko kategorieë.
  • 84% van RAWBW’e het nie genoeg proseskontroleerders nie.
  • 25% van RAWBW’e is in die medium-risiko kategorie, 34% is in die hoë-risiko kategorie en 32% in die kritieke-risiko kategorie – wat dui op ’n verswakking in die status van riool in Suid-Afrika in vergelyking met 2022 se verslae.

“Die wanbestuur van riool veroorsaak ’n bose kringloop wat ook die gehalte van drinkwater kan beïnvloed. Met bykans tweederdes van RAWBW’e wat ’n hoë of kritieke risiko inhou, is dit glad nie vergesog dat die behandeling van drinkwater ook in die toekoms baie meer problematies gaan word nie. Uiteindelik gaan dit ’n reuse-invloed op die koste van drinkwater hê, omdat dit al hoe duurder gaan word om water te suiwer. Gegewe die kritieke toestand van bykans ’n derde van die land se WVS’e, kan dit egter reeds tot lewensgevaarlike situasies lei,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.

Die geen waterverslag se resultate toon die volgende:

  • 144 waterdienste-owerhede is geoudit. Slegs 4 het 90% of hoër ontvang, 8 tussen 80-90% (goeie prestasie), 43 tussen 50-80% (gemiddelde prestasie), 65 onder 50% (sleg tot kritiek) en 24 het 0% ontvang aangesien hulle nie inligting voorsien het nie.
  • Algehele waterverlies nasionaal – as gevolg van lekkasies in die verspreidingsnetwerk – staan op 40,8%.

“As mens na die inhoud van hierdie verslae kyk, staan mens in ongeloof oor die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Thembi Nkadimeng, se onlangse uitlating dat daar ’n merkwaardige verbetering in munisipaliteite is. Die voorsiening van skoon drinkwater, wat ’n basiese mensereg is, verswak jaar na jaar en die getal dorpe wat met waterprobleme sit word ook net groter. Hoe is dit ’n aanduiding dat munisipaliteite merkwaardig verbeter het? Hierdie uitlatings is niks anders as ’n verkiesingsfoefie nie. Die meeste mense sien egter deur hierdie leuen, omdat hulle elke dag in die realiteit van wanbestuur leef,” sluit De Vaal af.

AfriForum gaan in 2024 ’n Nasionale Waterstrategie bekendstel waarin daadwerklike planne uiteengesit sal word om gemeenskappe meer onafhanklik te maak van onbekwame munisipaliteite se gebrekkige water- en sanitasiedienslewering.

Soortgelyke plasings