|

AfriForum se Bellville-buurtwag trek misdadiger vas

Die AfriForum-buurtwag in Bellville, wat deel vorm van AfriForum se Kaapstad-Noord-tak, het op 2 November 2021 in samewerking met District Basset en wetstoepassers ’n misdadiger in Suikerbossiestraat in Blomtuin in hegtenis geneem en aan die SAPD oorhandig. Die inhegtenisname volg nadat die vermeende misdadiger probeer het om in ’n motorvoertuig in te breek. 

’n Buurtwaglid van AfriForum se Bellville-buurtwag het omstreeks 19:00 ’n verdagte persoon gesien hardloop en onmiddellik hulp ontbied waarna die persoon in hegtenis geneem is.

“Ons is dankbaar vir die goeie samewerking tussen al die veiligheidsrolspelers en dat ons buurtwaglede so oplettend is. Ons kan nie toelaat dat wetteloosheid seëvier nie en sal aanhou om ons gemeenskappe en woongebiede veiliger te maak,” sê Johan Fritz, veiligheidsvoorsitter van AfriForum se Kaapstad-Noord-tak.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by die tak se buurtwag betrokke te raak en sodoende ’n daadwerklike verskil te maak. SMS “Kaapstad-Noord” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings